Die mans wat Leon Brits (41), hotelier van Pofadder, op 7 Oktober 2020 in sy huis aangeval, gesteek en verwurg het, is Donderdag (03/02) ’n lewenslange vonnis in die hooggeregshof in Upington opgelê.
Amantle Bareki (25) en Enrich Williams (36) is op Dinsdag 1 Februarie skuldig bevind.
Hul lewenslange vonnis vir moord sal gelyklopend met hul vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en tien jaar vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie uitgedien word.
Ten tyde van die moord is Krugermunte, geld en vuurwapens gebuit wat nooit gevind is nie.
Suretha Brits (31), die slagoffer se weduwee, dien reeds 25 jaar gevangenisstraf uit. Hoewel sy aanvanklik skuld ontken het, het sy in November 2021 ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en erken dat sy bereid was om R400 000 vir die moord te betaal en aktief met die reëlings betrokke was.
Die middelman, Jacques van Vuuren (38), het eerste gebieg en dien vir sy aandeel ’n effektiewe vonnis van 20 jaar uit.
Albei het as deel van hul pleitooreenkoms met die staat teen Bareki en Williams getuig.
Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het aangevoer dat Bareki en Williams gierige huurmoordenaars is wat, ondanks die staat se sterk saak, steeds skuld ontken. Hulle het nie berou nie en is nie rehabiliteerbaar nie. Hul stelling dat hulle empatie met die slagoffer se familie het, moet met minagting verwerp word.
Katlego Moribe het namens die verdediging ter strafversagting aangevoer dat die staat nie sy saak bo alle redelike twyfel bewys het nie. Sy kliënte is eerste oortreders met jong gesinne wat steeds ’n waardevolle bydrae tot die samelewing kan maak. Albei het N2-kwalifikasies.
Regter Stanley O’Brien was nie oortuig nie. Hy het bevind dat die moordenaars baie tyd gehad het om kop uit te trek. Hulle het ook geweier om self te getuig of getuies te roep. Die twee mans was in bevoorregte posisies en het die moord uit gierigheid gepleeg.
Tussen die vier skuldiges is daar 11 kinders wat sonder pa’s – en in Suretha se geval, ook sonder ’n ma – grootword.
Regter O’Brien het bevind die kinders ly die ergste onder hul ouers se wandade.
Al kry hulle berading, sal hulle die trauma waarskynlik nie oorkom nie.