Ruim kontantpryse wag vir wenners in die sesde jaarlikse Avbob-poësiekompetisie waarin inskrywings in al 11 amptelike tale ingewag word. Inskrywings hiervoor het Maandag (01/08) geopen.

Die eerstepryswenners in elke taalkategorie sal ’n prys ter waarde van R12 500 ontvang. Dit sluit R10 000 kontant, ’n boekbewys van R2 500 en die Avbob-poësietrofee in. Die beste inskrywings in elke taalkategorie word in die Avbob-poësiebiblioteek publiseer en sal R300 vir die skrywer inbring.

Suid-Afrikaners op alle vlakke van die samelewing word aangemoedig om hul keurigste woorde van liefde en hoop, moed en troos in digvorm uit te druk.

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, sê die kompetisie skep ’n gesamentlike ruimte waar alle Suid-Afrikaners hul diepste emosies met mekaar kan deel.

Digters kan tot tien gedigte aanlyn indien. Die top drie in elke taalkategorie sal in die jaarlikse gedrukte bloemlesing opgeneem word. Alle gedigte op die kortlys sal in Engels vertaal word.

Avbob-poësie se sosialemediaplatforms bevat wenke oor hoe om aan die gang te kom.

Gratis aanlyn werksessies word voor en tydens die kompetisie deur ervare digters en uitgewers aangebied.

Registreer by avbobpoetry.co.za en skryf tot 30 November tien gedigte in jou moedertaal in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article