Ds. Christo de Witt by die tafel met vars groente en vrugte.

Foto: Charné Kemp

Vleistande en smulpape het weer soos die vorige 50 jaar of meer die afgelope naweek na die NG kerk Plooysburg se basaar gestroom om vars vleis, groente, koek, fyngebak en poeding te koop; en te kuier.

Dié basaar met sy feestelike atmosfeer is so bekend dat mense ook uit ander provinsies met sleepwaens en vrieskaste kom om die gehalte-vleis en ander tuisgemaakte produkte teen gunstige pryse te koop.

Uit die basaar se inkomste word die kerk en die dorp ’n jaar lank onderhou, want die kerk besit die dorp met sy enkele strate, huise, begraafplaas en ’n polisiekantoor.

“Dit gaan elke jaar goed met ons basaar,” sê ds. Christo de Witt, tentmaker-predikant.

“Die vleis, groente en vrugte, en al die bestanddele vir dit op die koek-, lekkergoed- en poedingtafel word geskenk; asook dit wat in die koffiewinkel verkoop word en in die kombuis voorberei word, soos vetkoek-en-maalvleis en slaptjips.

“Alles wat ons het, word elke jaar uitverkoop. Niks bly oor nie.

“Die hele gemeente is betrokke om die basaar op geoliede wiele te laat loop.

“Ons het ’n beproefde resep en hou die basaar so tradisioneel as moontlik. Wat jy sien is wat jy kry.”

Die mense koop lustig aan die gehalte vars vleis.

Hyself is by die gaarvleis-verkope betrokke.

Voorbereiding begin meer as ’n week voor die basaar.

Die geskenkte diere word deur ’n slaghuis in Jacobsdal geslag en na Plooysburg gebring, waar die gemeentelede die karkasse voor die basaar verwerk.

Die basaar word in Mei gehou wanneer dit koeler en makliker is om met die vleis te werk.

Die NG kerk Plooysburg.

Dié inkomste vorm die grootste deel van die jaarlikse begroting. Die dorp se onderhoud behels dienste soos watervoorsiening, vullisverwydering en straatonderhoud, wat deur die koster behartig word.

Die kerk werk baie konserwatief met sy geld.

“Met die pandemie kon ons nie die basaar in Mei hou nie. Ons het egter later daardie jaar wel ’n basaar gehou, en dit was ’n reuse-sukses.”

De Witt ry die afgelope tien jaar elke Sondag van Kimberley waar hy woon en ’n sakeman is, om eredienste te behartig. Die kerk het 40 lede.

“Ek hou baie van ons mense; die mense maak alles so lekker. Dit is ’n klein gemeente, almal het soveel respek en liefde vir mekaar se gawes.”

Wat hom opgewonde maak, is dat al hoe meer jong mense, waarvan die meeste plaaslike boere is, betrokke raak, verantwoordelikhede nakom en spontaan aantree om deel te wees en te help, sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.