Planne ‘ontoereikend’

Terwyl dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, in sy repliek op die debat van sy vierde provinsiale rede die EFF verwyt het oor bewerings oor sy persoonlike lewe, het die DA gesê die premier het ’n geleentheid gemis om mense se lewensgehalte te verbet


Terwyl dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, in sy repliek op die debat van sy vierde provinsiale rede die EFF verwyt het oor bewerings oor sy persoonlike lewe, het die DA gesê die premier het ’n geleentheid gemis om mense se lewensgehalte te verbeter.

“Hy het ’n tonnelvisie oor megaprojekte en spreek nie die kernprobleme van water, riool, paaie, gesondheidsorg, onderwys en veiligheid aan wat ’n onmiddellike verskil aan mense se lewensgehalte maak nie,” sê Harold McGluwa, DA-leier.

“Niks het gekom van die belofte om elke slaggat in Kimberley teen die einde van 2021 te herstel nie. Die openbare beskermer het ook haar skok oor die toestand van Kimberley uitgespreek.

“Munisipaliteite stort onder sy leierskap ineen. Eskom het die Renosterberg-munisipaliteit se bankrekening bevries, waarna werkers se salaris nie betaal is nie. Dienste word ook nie gelewer nie. Terwyl net 75 ambu­lanse in werking is, wil hy aandag skenk aan ’n digitale versending­stelsel in plaas van om ambulanse te herstel.

“Die provinsie het nie eens geld om farmaseutiese produkte, MIV-toetsstelle, Sifilis-sneltoetsstelle en selfs medisyne vir prostaatkanker te koop nie, maar hy wil ’n massiewe pakhuis bou waar voorraad gesteel kan word.”

Die gesondheidsdepartement word deur ’n groep waarnemende bestuurders bestuur, terwyl daar ook ander departemente is wat al jare lank waarnemende departementshoofde het.
Harold McGluwa

“Sy voorstel van verbeterde ouditverslae is oppervlakkig omdat 10% van vanjaar se begroting gebruik is om vir verlede jaar se dienste te betaal. Die provinsie se toename in onreëlmatige uitgawes van R13,31 miljard in die 2019-’20-boekjaar tot R18,24 miljard in die 2020-’21-boekjaar is skreiend. Geen strafmaatreëls word teen korruptes geneem nie.”

Die DA betwyfel die sukses van die voorgestelde staatskonstruksie­maatskappy wat in samewerking met die wankelende departement paaie en openbare werke en onder die vaandel van die Noord-Kaapse ekonomiese ontwikkelings­agentskap sal val.

Danie Coetzee, VF Plus-leier, het in sy reaksie gesê maatskaplike toelae bring verligting, maar Noord-Kapenaars wil nie van die staat afhanklik wees nie.

“Hulle wil werksgeleenthede hê en ’n bydrae maak tot ’n groeiende ekonomie. Dit is belangrik dat ’n sterk private sektor ontwikkel word waarin gesonde sakebeginsels, werksetiek en die beginsel van waarde vir geld weerspieël word.”

Die gedagte van ’n diensjaar vir skoolverlaters gekoppel aan vaardig­heids­ontwikkeling en opleiding moet ondersoek word.

Kleinsakeontwik­keling en oordrag van kennis en vaardighede behoort voorrang te kry bo swart ekonomiese bemagtiging wat rykes ryker maak en meer mense van staatstoelae afhanklik maak.

“Te veel plaaslike munisipaliteite is ná verlede jaar se verkiesing onstabiel en finansieel onlewensvatbaar. Planne om munisipaliteite reg te ruk is ontoereikend. Elke munisipaliteit moet as ’n besigheidseenheid bestuur word, en amptenare en raadslede moet met die vaardighede toegerus word om dit te kan bestuur.”
Danie Coetzee

In sy repliek het die premier gesê sy administrasie gaan streng teen korrupsie optree. Hy gee ook aandag aan die departement van gesondheid.

“Van Junie 2019 tot nou het ons 92 nuwe ambulanse en 32 busse gekoop om pasiënte te vervoer. Ons het nog 40 ambulanse bestel. Ons gaan ’n nuwe hospitaal in die John Taolo Gaetsewe-distrik bou, en die nuwe lykshuis in Kuruman word eersdaags geopen.

“Die provinsie se munisipaliteite ondergaan ’n vaardigheidsoudit en het ’n spertyd om tekortkominge aan te meld. Die plaaslike regering-Seta sal hulle bystaan om vaardighede te verbeter. Nuwe wetlike verpligtinge vereis dat munisipaliteite gekwalifiseerde amptenare aanstel en huidige personeel verder oplei.”

Die proses om departements­hoofde aan te stel is onderweg.

“Ons gaan mans en vroue van die regte kaliber aanstel wat die visie het om die uitdagings aan te pak wat ons mense beleef.”
Dr. Zamani Saul

Die provinsiale regering het reeds R3,2 miljoen aan die Renosterberg-munisipaliteit beskikbaar gemaak om salarisse te betaal.

“Ons het R468 miljoen vir die volgende drie jaar beskikbaar gemaak om vervalle skole en skole wat van asbes gebou is, te herstel en vervang.”

Toe takel hy die EFF.

“Ek gaan nie tyd mors deur te reageer op vals gerugte oor my wat op die sosiale media versprei word nie, maar die EFF kan gerus die kommentare op die plasing oor hul eie leiers se kwalifikasies en strafregtelike aanklagte ter harte neem.”

You need to be Logged In to leave a comment.