Vervang die kaas in dié gevulde pizzakors met visvingers.

Kokkedoor-wenner en TV-sjef Tiaan Langenegger maak graag iets besonders uit alledaagse bestanddele.

Dié gevulde visvinger-pizza met tamatie en basiliekruid is maklik en geurig.

Bestanddele

Vir die deeg:

  • 1 pakkie kitsgis
  • 700 ml louwarm water
  • 5 ml sout
  • 5 ml suiker
  • 1 kg koekmeel
  • 50 ml olyfolie

Vir die vulsel:

  • 12 visvingers, gaargemaak
  • 5 eetlepels basiliekruid-pesto
  • 100 g mozzarellakaas, gerasper

Vir die sous:

  • 50 ml olyfolie
  • 1 klein ui, gekap
  • 1 klein blikkie tamaties, gekap
  • 1 klein pakkie tamatiepasta
  • 1 eetlepel suiker
  • sout en peper na smaak

Vir bo-op:

  • 100 g mozzarella, in stukke gesny
  • basiliekruid vir garnering

Maak só

Pizzadeeg: Meng die water, sout, suiker en gis goed saam. Voeg die meel by.

Gebruik ’n deeghaak om die deeg te verwerk totdat dit van die kante van die menger wegtrek.

Gooi die olie in ’n groot bak en keer die deeg uit op die olie.

Bedek met kleefplastiek en laat rys totdat dit in volume verdubbel.

Keer die deeg uit op ’n meelbedekte oppervlak en deel in vier balle.

Sny ’n sirkel uit bakpapier en gebruik dit as gids om die deeg in ’n sirkel te vorm.

Voorverhit die oond tot 260 °C, en sit ’n bakplaat in die oond.

Vulsel: Pak die visvingers om die rand van die deeg, maar los genoeg deeg sodat dit oor die vingers kan vou.

Strooi die kaas bo-oor die vingers en drup lepels vol van die pesto oor die kaas.

Vou die deeg oor die vulsel en druk liggies vas met jou vingers.

Sous: Verhit olie in ’n pan en braai die uie tot deurskynend. Voeg die tamatie en tamatiepasta by en roer goed. Geur met sout, peper en suiker.

Smeer lepels vol van die sous oor die basis van die pizza en pak kaas oor die sous.

Haal die voorverhitte bakplaat uit die oond en skuif die pizza daarop.

Sit dit dadelik terug in die oond en bak totdat die kaas borrel en die deeg goudbruin is.

Verwyder van die oond en laat die pizza rus.

Plaas stukkies basiliekruid op die pizza en bedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article