Jabulani Zuma

Foto: Charné Kemp

Samson Sam Mbokane

Die polisie se taktiese reaksie-eenheid het vandeesweek die voertuig-ingange van die hooggeregshof in Kimberley gesluit en in die hofsaal gesit waar sewe aangeklaagdes, waaronder ’n seun van oudpres. Jacob Zuma, van die moord op Piet Els, bekende sakeman, aangekla word.

Die taktiese eenheid is volgens ingeligtes ingeroep te midde van intelligensie dat een van die verdagtes beplan om te ontsnap. In nog ’n skokkende wending is een van die regsverteenwoordigers se aktetas met sy hofaantekeninge en skootrekenaar uit sy huis gesteel, wat die verhoor met ’n dag vertraag het.

Die aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer met ’n strykyster gemartel en aangerand. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Uit die getuienis is drie groepe betrokkenes geïdentifiseer. Zuma het van KwaZulu-Natal na Mbombela gery omdat hy ’n advertensie van ene Amos Ralihlare gelees waarin hy sê hy kan help om ou munte op te grawe en bose geeste te verjaag. In Mbombela in Mpumalanga het hy vir Ndlala, Maja en Mahomane, ’n familielid van Ndlala en Mbokane, opgelaai omdat hulle rituele vir hom in Kimberley moes uitvoer.

Die tweede groep mense is Ralihlare (wat ook ’n rol gespeel het) en sy vriendin by wie se huis Zuma en sy geselskap in Galeshewe, Kimberley, aangekom het.

Die derde groep is drie Sotho-sprekende mans wat die aanval uitgevoer het.

Mbokane het Donderdag, 24 November, homself as ‘n middeljarige en sieklike man met ’n swak geheue in die getuiebank voorgehou. Hy is net ’n tradisionele geneser, wat nie ander mense sal doodmaak nie. Hy weet niks van die gewapende roof en aanval nie, het hy aangevoer. Hy het Zuma voor die voorval geken omdat hy hom van ’n kwaal genees het. Op ’n dag het Zuma sy hulp gevra om munte in Kimberley op te grawe.

Mbokane het Ndlala en haar man saamgenooi omdat genesers mekaar help. Zuma het ingestem elkeen sou R10 000 betaal word. Met hul aankoms vroegoggend in Kimberley is hulle deur Ralihlare na sy huis gebring waar hulle drie ander jong mans en nog ’n vrou ontmoet het.

Dit het so gereën dat hulle nie “kon werk “ nie. Hulle het geweier om in die nag “te werk”, soos wat Ralihlare hulle versoek het. Dit het ’n onderonsie veroorsaak.

Mahomane het die huis later saam met drie mans verlaat. Mbokane het gaan slaap, maar is die volgende oggend wakker deur Ralihlare opgeklop. In die sitkamer was die ander mense, asook die drie jong mans. Die atmosfeer was gespanne.

Ralihlare het deur middel van Zuma die lede van die Mpumalanga-geselskap elkeen R10 000 in die hand gestop en hulle beveel om sy huis te verlaat.

Die verhoor duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article