Dit is einde niet vir die verhoor van die sewe beskuldigdes wat van die moord en die aanranding in 2018 op die bekende sakeman Piet Els en sy vriendin op sy plaas buite Kimberley aangekla word.
Die staat sou Maandag 15 April met sy betoë begin het, maar die saak is weens ’n regsverteenwoordiger se ongesteldheid uitgestel.
Die verhoor het voorheen reeds verskeie vertragings ondervind. Een vertraging was toe van die beskuldigdes nuwe regsverteenwoordigers moes kry nadat die voriges hulself onttrek het.
Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer met ’n strykyster gemartel en aangerand. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.
Jabulani Zuma, seun van oudpresident Jacob Zuma, staan saam met ses ander tereg op die moord en roof met verswarende omstandighede. Sy medebeskuldigdes is Morapeli Rankali en Motlalentwa Qhautse, van Lesotho; Lizbeth Ndlala en haar man, Themba Lawrence Maja, Oupa Jeffrey Mahomane, almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane van Mbombela in Mpumalanga; en Jabulani Zuma van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.
Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Zuma voer aan hy het destyds ’n advertensie in The Citizen-koerant gesien waarin ’n ene Amos Ralihlare, tradisionele geneser in Kimberley, hulp verlang om “ ’n spook te verwyder om by munte wat opgegrawe moet word, uit te kom.”
Die staat voer aan die spook wat verwyder moet word om die geld te verkry, is ’n mens: Els. Zuma het glo van KwaZulu-Natal na Mpumalanga gery waar hy vir Ndlala, Maja, Mahomane en Mbokane in Mbombela, Mpumalanga opgelaai en na Kimberley gereis en by Ralihlare se huis vergader het. Ndala, Maja en Mbokane moes glo rituele uitvoer.
By die huis van Ralihlare het drie Sotho-sprekende mans by hulle aangesluit. Zuma het glo drie mans en Mahomane na die plaas aangery waar hulle te voet in die veld na Els se plaashuis net buite Kimberley is. Zuma het na bewering al om die misdaadtoneel gery en is voortdurend telefonies op hoogte gehou.
Hulle is terug na Amos se huis waar die buit glo verdeel en Zuma en sy geselskap terug na Mbombela is waar hy sy meelopers afgelaai het.
’n Nuwe datum vir die lewering van slotbetoë sal op 29 April bevestig word. Die saak is tot dan uitgestel omdat Mbokane se prokureur, Albert Buthelezi, ’n operasie in Gauteng ondergaan en sy hersteltydperk onbekend is.


