Lizbeth Ndlala praat met Jabulani Zuma.

Foto: Charné Kemp

Die vonnisoplegging van die sewe persone wat vandeesweek in die hooggeregshof in Kimberley afsonderlik of gesamentlik op verskeie aanklagte skuldig bevind is – sewe jaar en vier dae ná die aanval op Piet Els en sy vriendin – sal in die eerste week van Maart plaasvind.

Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en ’n vriendin is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer in sy plaashuis buite die Diamanstad gemartel en aangerand. Kontant, munte, vuurwapens en ander besittings is gesteel. Els is 111 dae later aan sy kopbeserings oorlede.

Intussen is onthul dat drie van die skuldiges voorheen gevonnis is weens aanklagte wat aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof met verswarende omstandighede insluit.

Anders as voorheen, sit Jabulani Zuma alleen in die agterste beskuldigdebank nadat van sy medebeskuldigdes, Morapeli Rankali, Motlalentwa Qhautse, Lizbeth Ndlala, Themba Maja en Oupa Mahomane na die voorste bank geskuif het. Samson Mbokane was weens siekte afwesig.

Die skuldiges is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga; en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Weergawes ‘oneerlik, ontwykend, teenstrydig’

Regter Lawrence Lever het bevind die beskuldigdes se weergawes en getuienis is oneerlik, ontwykend, teenstrydig en hoogs onwaarskynlik. Uiteindelik het die oorlewende slagoffer se getuienis, asook selfoongetuienis, skoenafdrukke wat met spore op die toneel ooreenstem, en teenstrydige verklarings en ander getuienis hul doppie geklink.

Die staat het aangevoer drie verskillende groepe mense het saamgesweer en elkeen ’n spesifieke rol gespeel. Zuma het glo van KwaZulu-Natal na Mbombela gery om Mbokane, Ndlala en Maja, ook tradisionele genesers, en hul makker Mahomane, op te laai.

Vandaar het hulle na die opperbrein, Amos Ralihlare se huis in Galeshewe in Kimberley gery, twee dae voor die voorval. Ralihlare het nog drie Sotho-sprekende mans gekry om die aanval saam met Mahomane uit te voer.

Jabulani Zuma

Op die nag was daar gedurige selfoonkommunikasie vooraf, tydens en ná die voorval onderling tussen Zuma, Mbokane, Maja, Ralihlare en Mahomane, en selfs maande daarna.

Regter Lever het bevind dat Rankali, by wie Piet Els se gebreekte diamantring gevind is, geweet het dis gesteel. Hy het by sy broer van die rooftog gehoor. Qhautse, wat een van die vier aanvallers was, het nooit getuig of sy suster en ma as alibi-getuies geroep soos hy onderneem het nie. Hy het aan die polisie erken dat een paar tekkies aan hom behoort het en nooit aan die hof verduidelik hoekom sy tekkies se soolafdrukke op die toneel gevind is nie.

Spoke verjaag, munte opgrawe dra geen water

Ndlala, Maja en Mbokane het in verklarings gesê hulle weet van die tradisionele seremonie vir ’n rooftog, maar dit later ontken. Hul latere verduideliking dat hulle eintlik net spoke moes verjaag en munte opgrawe, dra geen water volgens die regter nie, want hulle het nie tydens hul besoek aan Kimberley vir iets gegrawe of “spoke verjaag” nie.

Die regter het bevind hulle is betaal ingevolge ’n ooreenkoms vir ’n ritueel vir die sukses van die rooftog. Mahomane het in die motor op pad terug na Mbombela vertel hoe die rooftog verloop het en vooraf geweet hulle kom om Krugermunte “van ’n wit man se plaas” te vat.

Motlalentwa Qhautse

Maja het teenoor die polisie erken hy het geweet Kruger-munte moes van ’n man tydens ‘n rooftog gevat word. Mbokane se verweer dat hulle net ’n seremonie moet uitvoer is ook verwerp weens die verdoemde getuienis teen hom.

Zuma se weergawe dat hy net die helers as ’n guns na Kimberley en terug gebring het, is onwaar. Hy het die rooftog gereël, tydens die voorval al om die misdaadtoneel beweeg en die buit uitgedeel. Tydens sy inhegtenisname het hy binnekennis oor Els se seuns met die polisie gedeel en ook gesê hy weet van die opperbrein (Ralihlare) wat in Lesotho skuil. Hy het die skuld op Mahomane probeer pak. Hy het van die verdoemende selfoongetuienis probeer wegkom deur te beweer hy het sy foon aan een van die Sotho-sprekende mans of Ralihlare geleen, of dit het weggeraak.

In kruisondervraging was Zuma oneerlik en het bedekte dreigemente en beledigings gemaak. Later het hy selfs geweier om vrae te beantwoord.

Beskuldigdes het vorige veroordelings

Regter Lever het Rankali aan diefstal; Qhautse en Mahomane aan huisbraak en roof met gewelddadige omstandighede, seksuele aanranding en moord; en Ndlala, Maja, Mbokane en Zuma aan huisbraak en roof met gewelddadige omstandighede skuldig bevind.

Die staat het openbaar dat Qhautse vorige veroordelings het vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook roof; en Mahomane vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof, en diefstal.

Oupa Jeffrey Mahomane

Zuma het ’n lang lys van veroordelings wat in 1982 begin het met vyf aanklagte van diefstal en die onwettige besit van ’n vuurwapen, die onwettige ontvang van geld in die gevangenes, roekelose bestuur in 1986, roof en die onwettige besit van ’n vuurwapen in 1987 en roof in 1999 waarvoor hy 25 jaar tronkstraf opgelê is. In 2000 is hy vir die onwettige besit van masjiengewere, mortiere en ’n vuurpyllanseerder gevonnis. Hy is in 2014 op parool vrygelaat wat in 2037 verstryk.

Die voorvonnisverhoor is tot 3 Maart uitgestel.

Oupa Jeffrey Mahomane praat met Themba Lawrence Maja.

Morapeli Rankali steek sy gesig weg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article