Die veroordeeldes in die moordsaak van die Kimberley-sakeman, Piet Els.
Die veroordeeldes is van links, voor: Morapeli Rankali, Motlalentwa Qhautse, Lizbeth Ndlala en Themba Maja; agter: Oupa Mahomane, Samson Mbokane en Jabulani Zuma. Credit: Foto: Charné Kemp

Die twee moordenaars van Piet Els (86), bekende in diamantkringe in Kimberley, is Dinsdag 12 Maart in die hooggeregshof in die stad vonnisse van lewenslange gevangenisstraf opgelê.

Elkeen van die sewe aangeklaagdes is vroeër vandeesmaand aan verskillende aanklagte skuldig be-vind nadat Els en sy vriendin (toe 68) op 24 Januarie 2018 in sy slaapkamer in sy plaashuis buite die stad aangerand en gemartel is.

Kontant, munte, vuurwapens en ander besittings is gesteel. Els is drie maande later aan sy kopbeserings oorlede.

Regter Lawrence Lever het die twee moordenaars, Motlalentwa Qhautse (42) van Lesotho en Oupa Jeffrey Mahomane (49) van Mbombela, elk ook vonnisse van 20 jaar gevangenisstraf vir huisbraak met die opset om te roof, en roof met verswarende omstandighede opgelê.

Voorts is hulle vyf jaar vir seksuele aanranding opgelê. Die vonnisse word samelopend uitgedien. Qhautse dien reeds ‘n vonnis uit vir ‘n afsonderlike saak vir ‘n rooftog in 2016.

Mahomane se dadelike aansoek om verlof tot appèl op die gronde dat die regter nie sy persoonlike omstandighede deeglik oorweeg het om van die voorgeskrewe maksimum vonnis af te wyk nie, is verwerp. Die regter het bevind ‘n ander hof sal nie tot ‘n ander gevolgtrekking kom nie.

‘Weerlose bejaardes ure lank fisiek mishandel’

Die moordenaars was twee van vier aanvallers wat die weerlose bejaardes ure lank fisiek mishandel het.

Volgens die regter het Els ‘n lang en pynlike sterfte beleef. Albei moordenaars het vorige veroordelings vir gewelddadige misdade, en nie een het in die voorvonnisverhoor enige berou vir hul aandeel getoon nie.

Hul makkers, onder wie Jabulani Zuma (67) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, – seun van oudpres. Jacob Zuma – is 20 jaar gevangenisstraf opgelê weens sy aandeel in die aanval.

Hy was onder korrektiewe toesig vir soortgelyke vorige oortredings toe Els-hulle aangeval is.

Die veroordeeldes in die moordsaak van die Kimberley-sakeman, Piet Els.
Die veroordeeldes is van links, voor: Morapeli Rankali, Motlalentwa Qhautse, Lizbeth Ndlala en Themba Maja; agter: Oupa Mahomane, Samson Mbokane en Jabulani Zuma. Credit: Foto: Charné Kemp

Zuma was betrokke by die beplanning van die aanval en het daardie nag al om die misdaadtoneel beweeg.

Die regter het in ag geneem dat hy byna vyf jaar in aanhouding is, bejaard is en ‘n siektetoestand het.

Zuma se ander makkers, Lizbeth Ndlala (61) en haar man, Themba Lawrence Maja (63), van Pienaar in Mpumalanga, en Samson Sam Mbokane (67) van Mbombela in Mpumalanga, is elk tien jaar gevangenisstraf opgelê vir huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede en seksuele aanranding.

Hoewel hulle nie deel was van die beplanning en aanval in die huis nie, het hulle in die buit gedeel en hulself met die misdaad vereenselwig.

Hulle moes as tradisionele helers verseker dat die rooftog glad verloop.

Maja het vir Mahomane as sy instrument saamgevat om deel van die aanval te wees om te verseker dat almal in die buit deel.

Van die polisielede wat die saak verder ondersoek en belangrike deurbrake gemaak het, is van links kapt. Suretta Zandberg, afgetrede kol. Wilmo Vermeulen en lt.kol. Hanlie Conradie. Die res van die ondersoekspan was kol. Jeff Kanakang, lt.kol. Doggie Magugu, ao. Henk van der Merwe en ao. Patrick Dibebe, wie afwesig was met die neem van die foto. Foto: Charné Kemp

Bewys omstandighede vir versagting van vonnis

Van hulle het dwingende persoonlike omstandighede soos ‘n eerste veroordeling, siektetoestande en gevorderde ouderdom aan die hof bewys vir die versagting van die vonnis.

Morapeli Rankali (32) wat aan diefstal skuldig bevind is, was reeds twee jaar en drie maande in aanhouding voordat hy later op borgtog vrygelaat is. Sy vonnis van drie jaar is in die geheel vir vyf jaar opgeskort.

Els se gebreekte trouring sonder die diamant is in sy besit gevind, nadat sy broer, Karabo Rankali, dit aan hom vir veilige bewaring gegee en hom van die roof vertel het.

Die regter het bevind dat die oortreders se persoonlike omstandighede, die aard van die misdaad en belange van die gemeenskap in balans oorweeg moet word vir die oorweging van gepaste vonnisse waarin genade ook ‘n rol speel.

Vonnisse moet dien as afskrikmiddel, voorkoming, rehabilitasie en mate van vergelding. Die ander beskuldigdes se aansoek om verlof tot appèl sal op ‘n latere datum aangehoor word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article