Deelname aan skoonheidskompetisies leer ’n mens om jouself te ken en hoe om in situasies heeltemal buite jou gemaksone op te tree.
Dawrette Heyns van Upington het 16 jaar gelede die Dawrette Heyns Modelling Academy and Finishing School geopen. Sedertdien het sy honderde studente gehelp om hul modeldrome te verwesenlik, en sy self leer telkens iets by.
“Jy moet dit met die regte hartsingesteldheid benader en ’n ‘teachable spirit’ hê. Dit is ’n baie emosionele en kopding,” vertel sy.
“Wanneer jy die regte kompetisie kies, is dit ongelooflik opbouend. Ek glo ’n mens verloor nooit wanneer jy dit met die regte ingesteldheid doen nie. Wees net selektief wanneer jy jou vir ’n kompetisie inskryf.”
As ’n semifinalis in verlede jaar se Mev. Suid-Afrika-kompetisie het sy juis geleer hoe om te verloor.
“Ek moes aan die hele Noord-Kaap wys hoe ’n mens verloor, en steeds reg en mooi wegstap. Hoe moet ek mense afrig en leer hoe om dit te hanteer wanneer jy uitval as ek dit self nie kan doen nie?
“My lewe lank is ek gewoond daaraan om in te kom wanneer ek iets doen. Hierdie was vir my ’n mooi les in nederigheid dat jy kan uitval ook, en dit is ’n goeie ding,” meen Heyns.
“Ons raak gou gewoond aan altyd wen of inkom, en wanneer jy uitval, neig jy na lelik raak of voel. Ek was teleurgesteld, maar is ook trots op hoe mooi ek uitgeval het en steeds net goed van die kompetisie kan praat.
“My mensekennis het baie verbreed, en dit was ’n ongelooflike lekker leerskool.”
Heyns, ook ’n gekwalifiseerde traumaberader, leer mense hoe om emosioneel, asook fisiek, na hulself om te sien. In haar sillabus word emosionele welstand behandel – want, sê sy, dit help nie jy het die een, maar ’n tekortkoming op die ander gebied nie.
Geen ouderdomsbeperking bestaan by haar skool nie, en die jongste student is twee jaar oud. Weens die lang afstande wat in die Noord-Kaap afgelê moet word, het sy ook studente wat klasse aanlyn bywoon, asook dié wat net een maal per maand by die skool opdaag om ’n klas by te woon.
“Verlede jaar se Mev. Noord-Kaap is van Kuruman, en sy was een van my studente,” sê Heyns.
Op 6 Augustus het Heyns se skool die Ms Pageant Queen-kompetisie aangebied, waarmee sy verlede jaar in haar reis as ’n Mev. Suid-Afrika semifinalis begin het. Hierin lei sy vroue op betreffende skoonheidskompetisies en hoe dit werk.
“Dit is ’n baie goeie leerskool, en wanneer hulle wegstap, weet hulle presies wat van hulle in so ’n kompetisie verwag word.
“Dit is ook vir opheffing van jouself – dit is mos lekker om goed oor jouself te voel,” sê sy.
Sy beplan weer ’n Ms Pageant Queen-kompetisie vir volgende jaar, slegs vir volwasse vroue. Die afdeling vir meisies, Miss Pageant Princess, gaan ook weer plaasvind.


