Persepsie is nie noodwendig wit of swart nie. In baie gevalle is dit grys. Persepsie is ook nie noodwendig die waarheid nie. Soms bevat dit ’n gryntjie waarheid. Soms glad nie.

Gestel die persepsie bestaan by jou werkgewer dat jy nie jou werk produktief doen nie. Gestel hierdie persepsie is deur kollegas aangewakker. Dalk weens ’n sperdatum waarmee jy gesukkel het – waarmee jy gewoonlik nie sukkel nie.

Jy lewer waarskynlik ’n positiewe bydrae, maar die persepsie lyk heeltemal anders.

Wat weeg die swaarste? Ongelukkig die persepsie. Hoe onregverdig is dit nie.

As die persepsie bestaan dat jy iets negatiefs doen en dit is nie waar nie, hou dit net soveel nadeel in soos wat die persepsie dat jy iets reg doen, vir jou voordeel kan inhou.

Sommige mense floreer op persepsies. Hulle konkel. Hulle lieg. Hulle stook kwaad. Maar die persepsie dat dit glad nie so is nie, hou hulle baie sorgvuldig in stand. Die enkele faktor wat tussen hulle en die werklikheid staan, is persepsie. Gewoonlik sorg hulle dat die persepsie mooi rooskleurig ingekleur word – deur hulleself natuurlik.

As jy aan die kortste end trek omdat ’n persepsie jou negatief beïnvloed, hou moed. Die prentjie sal weldra verander.

As jy ten koste van ander mense voordeel uit ’n persepsie trek, wees versigtig – hier sal die prentjie ook weldra verander.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article