food in shells
Ter illustrasie. Foto: Rachel Claire/pexels.com

Vyf buitelanders is die naweek in die Douglas-omgewing in hegtenis geneem nadat perlemoen met ‘n waarde van meer as R1,9 miljoen in hul besit gevind is.

Lede van die polisie se provinsiale georganiseerde misdaadondersoek-eenheid het op Saterdag 26 April op dié plaashuis toegeslaan. Dit het gevolg nadat inligting oor verdagte aktiwiteite by die eiendom aangemeld is.

Die vyf verdagtes, twee Malawiese burgers en drie Chinese burgers, is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van perlemoen. Hul ouderdom wissel van 18 tot 60 jaar.

Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die departement van binnelandse sake sal help om die immigrasiestatus van die verdagtes vas te stel.

Van die perlemoen wat in die Douglas-omgewing gevind is.
Van die perlemoen wat die naweek deur die polisie in ‘n plaashuis buite Douglas gevind is. Foto: Verskaf

Die polisie, in samewerking met die departement van bosbou, visserye en omgewing, het die straatwaarde van die gekonfiskeerde perlemoen op ongeveer R1 970 829 vasgestel.

Daar is ook beslag gelê op verskeie ander bewyse. Twee voertuie, ‘n Toyota Hilux-bakkie en ‘n Nissan NP200, is ook gekonfiskeer. Die voertuie is vermoedelik in die uitvoer van die misdaad gebruik.

Die waarnemende Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, genl.maj. Luntu Ngubelanga, het die span vir hul uitsonderlike werk geprys.

Hy het beklemtoon dat mariene-verwante misdade steeds ernstig vervolg sal word. Die ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.