’n Aksie-belaaide perdesportsoort wat spoed, akkuraatheid en ’n sterk perd-ruiter-verhouding vereis, kan by talle klubs in die Noord-Kaap beoefen word.
Western Mounted Games (WMG) word in Kimberley, Upington, Prieska en Kathu beoefen.
Die WMG word as ’n sportsoort beskryf waarin ruiters en hul perde teen die stophorlosie in ’n reeks uitdagende nommers meeding. Hiertydens moet ruiters hul perde vinnig en akkuraat deur hindernisse soos vaatjies, pale en figuur-agt-patrone stuur.
Akkuraatheid is belangrik omdat selfs ’n klein fout ’n invloed op die tyd kan hê waarin die nommer voltooi word. Die vinnige tempo en die uitdagende nommers wat baasgeraak moet word, skep by deelnemers én toeskouers ’n gevoel van opwinding en maak dit ’n hoogs aanskoulike sportsoort.
Vanweë die wye verskeidenheid nommers is dit vir elke perd en ruiter geskik, ongeag ervaring- of vaardigheidsvlak. Dit is boonop ’n gesinsvriendelike sportsoort vir alle ouderdomme wat vaardighede verbeter en ’n lewenslange liefde vir perde kweek.
Kwalifiseringsrondes word by elke klub aangebied. Ruiters neem deur die jaar hieraan deel om punte vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse WMG-byeenkoms in Parys in die Vrystaat te kry.
Elize du Toit van Upington, ’n betrokkene by dié sportsoort, vertel dat elke ruiter verkieslik sy of haar eie perd moet hê. Van die klubs het wel perde om te verhuur. Sy stel voor dat belangstellendes met ’n naaste klub skakel oor die beskikbaarheid van perde.
’n Ruiter moet deur die jaar met dieselfde perd aan die kwalifiseringsrondes deelneem in die poging om vir die nasionale byeenkoms te kwalifiseer.
Ook diegene met ’n perd en wat graag die WMG wil beoefen, kan die klubs soos volg kontak:
- Upington: Coenie Willemse (082-892-1812);
- Kathu: Anton Botes (083-721-3392);
- Kimberley/Hopetown: Dawie Griesel (084-240-6353);
- Prieska: Jan/Henvia Beukes (083-256-0714 of 073-414-7770); of
- besoek SAWMGA Noord-Kaap op Facebook.


