Kranige breiers van oor die land heen is aan die brei aan nagenoeg 2 800 paar borsprosteses vir vroue wat hul borste weens kanker verloor het.
Sedert die projek in 2021 begin is, is genoeg prosteses vir ongeveer 7 000 vroue gebrei.
Onlangs het verteenwoordigers van Solidariteit Helpende Hand se hoofkantoor in Centurion van die prosteses aan KANSA oorhandig.
“Borskanker is ’n siekte wat baie vroue oor die wêreld heen raak. Sommige van hulle moet mastektomieë of ander borsprosedures ondergaan om die kanker te verwyder,” sê René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.
“Talle mastektomie-pasiënte wat dit kan bekostig, kry terselfdertyd ’n borsrekonstruksie. Maar vir ander is dit ’n droom wat weens die geldelike implikasie onbereikbaar bly, en dit kan ’n groot invloed op hul selfbeeld en lewensgehalte hê.
“Daarom het Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds ons Boesemvriendinne-projek begin om hierdie vroue te help om hul waardigheid en selfvertroue te herwin.”
Roux is die medeskrywer van die digbundel Steeds vrou, wat hoop aan elkeen in ’n tyd van verlies verleen.
’n Gebreide borsprotese is sag en lig, en dit kan in enige gewone bra geplaas word.
Dit word gemaak van 100% katoen, wat lugdeurlatend is om hitte-uitslag en ongemak te voorkom.
Dit is boonop meer bekostigbaar en toeganklik as silikonprosteses wat warm, duur en swaar kan wees.
Roux sê Boesemvriendinne is ’n deurlopende projek en sy hoop die Boesemvriendinne-projek kan volgende Oktober nog meer borsprosteses aan KANSA skenk.
Sy het mense aangemoedig om aan te hou brei of die breiers te ondersteun deur vir hulle van die brei- of hekelpakkette teen slegs R60 elk te koop.
Die Boesemvriendinne-projek gebruik ook die geldskenkings wat ontvang word om pakkette aan te koop en onder vrywillige breiers te versprei.
Roux nooi alle breiers wat vir ’n goeie saak wil brei om met die Boesemvriendinne-projek kontak te maak.
Sy sê elke breipakket bestaan uit die brei- of hekelpatroon, wol en vullingsmateriaal om ’n paar prosteses te maak.
Vir meer inligting, besoek boesemvriendinne.co.za vir meer inligting.
- “FroueVonds” word met opset verkeerd gespel, met die V en F omgeruil, juis om daardeur te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie.


