Die hoof van ’n skool in Warrenton sê onderwys is die “moeder van alle beroepe”.

Lucinda Barnes-Afrika, hoof van die Warrenvale Gekombineerde Skool in dié Noord-Kaapse dorp, sê geen dokter, argitek, vlieënier, ingenieur, rekenmeester, en meer, sou hul beroep kon bereik sonder ’n onderwyser se hand wat hulle help vorm het nie.

“Ek wou nog altyd ’n onderwyser word. Van kleintyd af was dit my begeerte. Ek wou ’n verskil in die lewe van ander maak,” sê sy.

Barnes-Afrika se gekose pad na die onderwys het oor jare ander draaie geloop. Dit was eers ná 14 jaar diens by die Mangaung-munisipaliteit in Bloemfontein waar sy as ’n veiligheidspolisiebeampte begin werk het, dat sy bedank het om in 2008 haar studies in onderwys aan te pak.

“As opvoeder kan jy lewens aanraak; al sou jy net een seesterretjie in die see teruggooi terwyl daar baie seesterretjies op die strand bly lê, het jy aan daardie een se lewe ’n toevoeging gemaak.”

‘My pen loop oor’

’n Ander passie was nog altyd om te skryf, want “my pen loop oor.”

Deur haar skryfwerk wil sy ook mense help en ’n verskil maak, veral om ’n lewende verhouding met God te hê.

Haar eerste boek het sy reeds in 2017 geskryf, waarna dit in 2018 gedruk is.

“Ek het nog vier boeke wat ek wil skryf,” vertel Barnes-Afrika. “My fenominale ervarings met die Here eindig nie in die boek, God se Verlossingskrag, nie. Daar is nog so baie wat ek wil deel.

“Die Here het die wonderlikste dinge in my lewe gedoen. Hy het my uit dodelike omstandighede gered waaruit ek dit nooit op my eie sou maak nie.

“Ek wil mense vertel wie Hy is, wat Hy kan doen en hoe Hy mense se lewe kan verander as hulle hom net sou toelaat.”

Lucinda Barnes-Afrika, en haar eerste boek wat sy geskryf het. Sy beplan om nog vier te skryf en glo dit is haar manier – behalwe haar beroep as onderwyser – om te help om ’n verskil in die lewe van ander te maak.

‘Untiring devotion’

Barnes-Afrika is van Ennerdale in Johannesburg, waar sy as die oudste van vier kinders grootgeword het. Haar ouers, Hendrick en Hilda Barnes, was ook onderwysers.

Sy het haar matriekjaar aan die Dr Blok Senior Sekondêre Skool in Bloemfontein voltooi, en daarna personeelbestuur aan die Motheo-kollege studeer.

In Januarie 1994 het sy by die munisipaliteit begin werk, en in dieselfde jaar vir Richard Afrika ontmoet. Hulle is vanjaar reeds 30 jaar getroud, en het vyf kinders: Ruan, Luciano, Zanwill, Zoe en Geraldo.

Oor Ruan, nou 28 jaar oud, sê sy is ’n wonderlike storie te vertel nadat hy jare gelede ses verdiepings ver geval het, en oorleef het.

In 2018 het die gesin na die Xhariep-distrik verhuis waar sy haar eerste skoolhoofpos aanvaar het. Sy is sedert 2021 by Warrenvale.

Volgens Barnes-Afrika is die groot leemtes wat sy in die samelewing waarneem, die gebrek aan respek, selfrespek en dissipline.

“Ons as opvoeders moet daagliks leerlinge leer om dié en ander waardes te leer en toe te pas, nog voordat ons by ons onderrigplan uitkom.

“Dit maak ons werk as opvoeders baie moeilik. Maar omdat ek so ’n ontsettende liefde vir kinders het, doen ek dit elke dag met liefde en ‘untiring devotion’. ”

Bel Barnes-Afrika by 071-068-6480 om meer oor haar boek uit te vind.

You need to be Logged In to leave a comment.