Sowat 100 gaste is onder ’n helder Noord-Kaapse sterrehemel deur ’n sangvertoning van Mathys Roets en Jacobus Silwer meegevoer.
Die geleentheid was die Sanparke-ereveldwagters se negende jaarlikse Boskonsert, wat op 19 en 20 April in die Mokala- Nasionale Park, suid van Kimberley, plaasgevind het.
Die optrede Saterdagaand – vanaf die agterkant van ’n vragmotor by die Stofdam-voëlskuiling – het hoogtepunte uit die vermaaklikheidskunstenaars se gewilde vertoning Afrikaans, die taal van my hart bevat. Die konsert het weer gepaard gegaan met ’n aansit-ete aan tafels in die veld.
Die parkhoof, Johan de Klerk, en lede van sy personeel het die konsert bygewoon wat deur die Sanparke-ereveldwagters in die Vrystaat-streek aangebied word om broodnodige geld vir die park in te samel.
Volgens Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters en lid van die organiseringskomitee, is die “boskonsert” ’n hele naweek van opwindende geleenthede.
Die park van ongeveer 38 000 ha bied ook ’n tuiste aan ’n paar skaars spesies soos bastergemsbokke, swartwitpense en basterhartbeeste.
Die tiende Boskonsert word in 2025 op 11 en 12 April aangebied. Kontak Ina Leamy by ina@sanparksvolunteers.org.


