’n Suid-Koreaanse burger is een van vyf mense wat op Saterdag 30 Maart in ’n ongeluk op die N14 naby Keimoes dood is.
’n Volkswagen Tiguan met vier mans van Suid-Korea was omstreeks 17:45 in ’n ongeluk reg van voor met ’n Volkswagen Polo met vier mans van Kakamas betrokke, sê lt kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Die buitelanders was van Kakamas na Upington onderweg.
Een buitelander en al vier die inwoners van Kakamas in die Polo is op die toneel dood.
Die drie ander Suid-Koreane is in die hospitaal opgeneem.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, sê Kock.
Teen druktyd Dinsdag was die name van die oorledenes nog nie amptelik bekend gemaak nie.
- In ’n onverwante padongeluk is altesaam 45 burgers van Botswana op Donderdagmiddag 28 Maart in Limpopo dood nadat die bus waarin hulle na Moria buite Polokwane vir die Zion Christian Church (ZCC) se Paasvieringe onderweg was, van ’n brug afgetuimel en aan die brand geslaan het. Slegs ’n agtjarige meisie, ook van Botswana, het oorleef. Dié dodetal van 45 is meer as die 41 padsterftes wat tydens 2023 se Paasnaweek in Limpopo aangeteken is.
Die amptelike padsterftes was teen druktyd Dinsdag nog nie bekend nie.


