’n Slaggat op die berugte R31-pad tussen Kimberley en Daniëlskuil het waarskynlik tot die dood van Eric Seane (29) gelei.
Seane en sy kollega, Sam Seekoei, was Donderdagoggend (03/02) op pad na Daniëlskuil, Postmasburg, Olifantshoek, Kathu en Kuruman om duisende NoordkaapBulletin-koerante af te lewer toe die ongeluk 10 km verby Koopmansfontein gebeur het.
Volgens Seekoei kan hy onthou dat hulle ’n ander voertuig op die pad verbygegaan het, en toe Seane terug na die linkerbaan beweeg het, was daar ’n slaggat. Hy kan nie onthou of Seane deur die slaggat gery het en of hy daarvoor uitgeswenk het nie.
Seekoei, wat ligte beserings opgedoen het toe die Mahindra-bakkie waarin hulle gery het die pad verlaat en omgeslaan het, kan nie onthou wat daarna gebeur het nie.
Seane is op slag dood.
“Die R31 is die pad van die dood,” sê Hennie Noëth van die plaas Grasbult by Koopmansfontein, op wie se grond die bakkie beland het.
Hy was eerste op die toneel.
Elke dag hoor en sien hy van sy plaas af hoe voertuie die slaggate tref. Elke dag wanneer hy op pad is, is daar drie of meer voertuie wat beskadig langs die pad staan nadat dit die slaggate getref het.
Noëth, wat self vragmotors op die pad het, sê hy maak reeds ’n geruime tyd gate op die pad met gruis en sement reg sover hy kan.
“Maar ek kan nie die hele R31 regmaak nie.”
Slegs ’n gedeelte van die pad is deur die verantwoordelike departement herstel – omdat die geld glo opgeraak het.
Volgens Noëth is slaggate op die ryoppervlak en die skouers van die pad wat afgery word ’n dodelike kombinasie. Wanneer ’n voertuig vir ’n slaggat in die ryoppervlak uitswaai, word die skouer getref, wat met tyd heeltemal afbreek en ook skerp en gevaarlike gate vorm.
’n Ander gevaar is bestuurders wat hul voertuig in die rigting van aankomende verkeer laat uitswaai om slaggate te vermy.
“Ons oordryf nie wanneer ons oor hierdie pad kla nie,” sê Noëth.
Die voertuig waarmee Seane gery het, is die persoonlike bakkie van Johan Joubert van Van der Merwe-verspreiding, vir wie Seane op ’n deeltydse basis gehelp het. Joubert sê hy het volle vertroue in Seane en sy vermoë as bestuurder gehad.
“Wanneer ek hom nodig gehad het, het hy my gehelp. Eric was werklik ’n uitstekende jong man.”
Volgens Joubert is hy reeds sowat sewe jaar by koerantaflewering betrokke en ry sy voertuie elke Donderdag ongeveer 3 800 km om koerante af te lewer.
’n Familielid van hom wat in Kimberley woon en vanweë werkverpligtinge gereeld Kathu en Kuruman moet besoek, oorweeg dit ’n geruime tyd reeds om via Vryburg na dié dorpe te ry om die R31 te vermy, al is dit veel verder.
“Van Van der Merwe-verspreiding se kant af – van myself, my vrou, Liana, Desiree Page en Keith Madalane – is ons ontsettend jammer en geskok dat so iets gebeur het. Ons innige meegevoel gaan aan Eric se familie,” sê Joubert.
Seane is in Kimberley gebore en het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Adamantia voltooi.
Volgens sy ouer broer Nicholas was hy ’n student in die regte, gaande oor rugby en het hy as rugby-afrigter by verskeie skole opgetree. Nicholas sê Eric se boodskap aan dié wat hy afgerig het, was “to keep training and keep the flag up high”.
Benewens sy ouers en sibbe laat Seane ’n lewensmaat en ’n agtjarige dogtertjie agter.
Nicholas beskryf Eric as “a lovely, family-orientated man who was humble and respectful”.
Hy sal Eric ook onthou as eerlik, betroubaar en onafhanklik, met baie ambisie en die vermoë om ander aan te spoor.
Die begrafnis is Saterdag (12/02). Rig navrae hieroor aan Nicholas by 067-210-8698, of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 082-313-9673.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, bevestig dat die polisie in Delportshoop ’n saak van strafbare manslag ondersoek na aanleiding van ’n ongeluk Donderdag om 07:00 op die R31 waarin een man dood is.
Hy vra dat enigeen met inligting speur-adjudant-offisier Gale Haai by 060-972-3270 bel.
R31 opnuut in kollig
Seane se dood plaas dié deel van die R31 tussen Kimberley en Daniëlskuil opnuut op die voorgrond.
Die R31 word as een van die belangrikste paaie in die Noord-Kaap beskou en duisende vragmotors gebruik dit daagliks om grondstowwe van die myne in die Lime Acres-, Postmasburg-, Kathu- en Kurumangebied na onder meer die Oos-Kaap te vervoer. Ook die landbou- en toerismesektor maak van die pad gebruik.
Maar groot dele van die pad is smal, vol slaggate en met padskouers vol diep en gevaarlike gate.
“Jy sal nie glo hoeveel vragmotors en ander voertuie verloor of beskadig daagliks hul kantspieëls nadat hulle so naby mekaar op die pad moet verbyry nie,” sê ’n gereelde padgebruiker. Om ’n kantspieël of selfs ’n band of velling te verloor, is “aanvaarbaar,” sê hy, maar al hoe meer ongelukke gebeur op die pad waarin mense ernstig beseer word of sterf.
“Die departement is besig moet roetine-instandhouding op die pad tussen Kimberley en Daniëlskuil,” sê Crystal Robertson, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke. “Die hoofuitdaging is die roete wat daagliks deur vragmotors gebruik word om mangaan van die myne te vervoer,” sê sy. “Die departement het reeds begin aan die padgedeelte tussen Ulco en Koopmansfontein. Die projek word in fases gedoen en die eerste twee fases is reeds voltooi.”
Sy kon nie sê wanneer die volgende fase sal begin nie.
Rennie Andrias, hoof van kommunikasie van die Noord-Kaapse departement van vervoer, veiligheid en skakeling, kon nie voor publikasie van hierdie berig statistieke van die getal voertuigongelukke op die pad verskaf nie.Hulle het tyd nodig om hierdie inligting “noukeurig in te samel, sê hy en wys daarop dat ongelukke dikwels ook weens ander faktore, soos menslike foute of weersomstandighede, gebeur.“Ons versoek padgebruikers om asseblief die padreëls ten alle tye na te kom. Reken genoeg reistyd in om hoë snelhede te vermy.”
Lekkende pype
Die R31-gedeelte naby die Wildebeest Kuil Rock Art-sentrum en Platfontein naby Kimberley, wek ook lank reeds kommer. Hier word ’n deel van die pad deur ’n massiewe riool-en-varswaterpan omring wat deur lekkende pype veroorsaak word. Die watervlak is sentimeters weg van die padoppervlak en nie minder nie as drie voertuie het reeds in die water beland, insluitend ’n vragmotor.
Hoewel die ernstige rioollekkasie reeds in 2016 aangemeld is, het nog niks wat daaraan gedoen is die situasie verbeter nie.
In April 2021 het die DA die Groen Skerpioene versoek om in te tree, en in Augustus verlede jaar het die EFF die rioolpan “Lake Zamani” gedoop na die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul.
In Januarie vanjaar het Charné Kemp berig oor die verskeie slaggate wat besig is om op dié deel te vorm. Hoewel die departement van paaie en openbare werke van die slaggate herstel het, word daar steeds geswyg oor hoe beplan word om die oorsaak van die probleem op te los en die pad te herbou.
Die water wat permanent hierdie padgedeelte omring hou ’n ernstige bedreiging vir die padstruktuur in, en ’n ineenstorting daarvan – met ’n swaargelaaide vragmotor wat ongeveer elke 30 sekondes oor dié deel ry – word gevrees.