Rugby is meer as net ’n sport; dit kan ook ’n erfenis wees wat oor geslagte heen strek.
Dit het ’n pa en seun van Olifantshoek, Norman en Marnus de Jager, op die rugbyveld tydens Bokkieweek-toernooie beleef – 22 jaar uitmekaar.
Norman het in 2002 die kans gekry om as kaptein vir sy span uit te draf, en 22 jaar later wen Marnus en die o.14-Griekwas dieselfde somerweektoernooi. Marnus was die onderkaptein van sy span.
Pa Norman het in 2002 aanvanklik as reserwe begin rugby speel, maar met volharding het hy die span gelei en terselfdertyd waardevolle lewenslesse opgedoen.
“Ek het vir my pa gesê ek wil nie gaan nie, maar hy het my aangemoedig om te probeer. Die Here het my die pad laat stap, en die toernooi het my lewe verander,” sê Norman.
Hierdie ervaring het hom nie net as ’n rugbyspeler gevorm nie, maar hom ook die waardes van samewerking, dissipline en geloof geleer.
Marnus, wat vanjaar aan dieselfde toernooi deelgeneem het, vertel van die inspirasie wat hy uit sy pa se stories put.
“Dit is baie lekker om na my pa se stories te luister en om na sy rugbytruie en foto’s te kyk.
“Ek het vir myself gesê dit is iets wat ek ook graag wil hê,” sê Marnus, ’n leerling aan die Hoërskool Duineveld in Upington.
“Rugby leer jou meer as net hoe om te wen, dit leer jou om op te staan, vas te byt, en dit met die Here aan jou sy te doen,” beklemtoon Norman.
Marnus vertel dat nuwe vriendskappe gevorm is tydens die afgelope toernooi wat van 24 tot 28 September in die Vaaldriehoek plaasgevind het, met geleenthede om by ander spelers te leer, asook die unieke ervaring van sewesrugby.
Vir hom was die hoogtepunt ongetwyfeld toe hy sy pa kon bel met die nuus dat sy span gewen het.
Bokkieweek vind deurlopend plaas met verskillende toernooie, en sportsoorte sluit woemahokkie, snelbal, krieket, sewesrugby en gholf in.


