Hennie Becker (13) saam met sy ma, Corlien, en pa, Hennie, in die hospitaal nadat ’n pofadder hom Vrydag aan die voet gepik het­.

Foto: Verskaf

’n Boer van Hartswater het op Vrydagmiddag 22 Maart vinniger as 170 km per uur in sy Toyota Land Cruiser van sy jagplaas gejaag om sy 13-jarige seun binne die “goue uur” by die Lenmed Royal-hospitaal in Kimberley te kry nadat ’n pofadder hom gepik het.

Hennie Becker (13), wat aan sy linkervoet gepik is, het Sondag gesê dit gaan beter met hom. Hy het ook al vir sy pa gevra of hy ná die Paasvakansie kan rugby speel.

“Dit was nie so erg toe die pofadder my gepik het nie, maar dit was seer. Die ergste was toe ek die teengif in die hoësorgeenheid van die hospitaal ontvang het. My lyf het in skok gegaan, dit was seer en ek het koud gekry. Ek was ook naar.”

Hennie Becker (13) saam met sy ma, Corlien, en pa, Hennie, in die hospitaal nadat ’n pofadder hom Vrydag aan die voet gepik het­.

Sy pa, Hennie Becker sr. , sê dit het minder as ’n uur en 50 minute geduur vandat hy en sy seun by die plaas weggetrek het totdat hulle die 120 km na die hospitaal afgelê het, en Hennie opgeneem en die inspuiting met die teengif toegedien is.

“Dit was nog binne die ‘goue uur’ (twee uur) nadat ’n pof­adder jou gepik het dat jy die teengif moet kry. Daarna kan die gif verder versprei en word sake bemoeilik. ’n Mens kan jou ledemaat verloor as jy nie gou gehelp word nie.”

Hy sê toe hulle by die hek van hul jagplaas uitjaag, het hy vir sy seun gesê om maar ’n gebedjie op te sê.

“Hy het geantwoord dat hy al drie opgesê het.”

Becker vertel hy het Vrydagmiddag gaan kruideniersware koop, die bakkie in die motorhuis parkeer en vir Hennie gestuur om die pakkies uit die motor te haal. Dit was toe dat sy seun, wat kaalvoet was, op die slang moes getrap het.

“Die volgende wat ek gehoor het, was toe Hennie met pakkies in die huis inhardloop en skree hy dink ’n slang het hom gepik. Ons is terug na die motorhuis, waar ons die pofadder gesien het.”

Nadat die dokter in Harts­water na die voet gekyk het, het hy aanbeveel dat hulle Kimberley toe gaan sodat teengif toe­gedien kon word.

Carien de Klerk, ’n gesinsvriendin wat hiervan te hore gekom het, het Eduan­ne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control gebel, wat raad gegee het.

Niemand, ’n slangkenner van Wellington, sê ’n pofadder se gif het nie dieselfde uitwerking op alle mense nie.

“As jy nie optree nie, kan jy jou ledemaat verloor,” waarsku hy.

Hy het ook onlangs gehelp toe twee Noord-Kapenaars deur Kaapse kobras gepik is en in die Mediclinic Kimberley teengif moes kry.

You need to be Logged In to leave a comment.