‘n Pa-en-seun-duo, onderskeidelik van Steynsrus en Kroonstad, het vanjaar ‘n slag geslaan op die Kultuurstokersgilde se kompetisie met die mampoer wat hulle ingeskryf het.
Die kompetisie is op 28 Junie by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied en honderde stokers van oor die land heen het in die onderskeie afdelings meegeding.
Pa Willem en sy seun Hendrik Marais, boere van die Kroonstad-distrik, is as die beste stokers en mampoer-konings aangewys.
In die strawwe kompetisie het beoordeelaars kop gekrap met die proe van die honderde inskrywings.
Dit was egter die smake van Willem en Hendrik se mampoer wat hulle die meeste beïndruk het.
Die duo is aangewys as afdelingwenners vir die beste appelkoos-, beste maroela- en beste druiwe-mampoer met dop op hout verouder, jonger as drie jaar.
Die Kultuurstokersgilde se kompetisie is in 1983 in Koster begin, ter wille van die bewaring van die bedryf en om dit uit te brei.
Deelnemers aan die kompetisie moet ‘n lid van die organisasie wees en moet oor ‘n wettige stokerslisensie beskik.
Die Marais’s, wat ywerige boere is, stook gewoonlik op Saterdae en hulle beskou hierdie tydverdryf as hul groot liefde.
Dit is vir hulle ‘n heerlike uitdaging om elke keer iets nuuts met vrugte te probeer.Hulle skaaf ook aan tegnieke om die proses te verbeter en te verfyn.
Willem sê hulle is trots op die prestasie om as die algehele mampoerkonings van die Kultuurstokersgilde gekroon te word.
Marijke Kleinhans van Stilbaai is op haar beurt met die titel van witblits-kampioen in die kompetisie bekroon.
Die organiseerders van die Kultuurstokersgilde se kompetisie sien daarna uit om nuwelinge, asook ervare deelnemers, se produkte volgende jaar te beoordeel, en hulle moedig stokers aan om hulle vir die kompetisie in te skryf.


