’n Begrafnis met soveel mense “dat dit gelyk het of dit die president s’n is”, is vroeër vandeesmaand in Jacobsdal gehou.

Lede van die Speek-familie het van so ver soos Limpopo, die Kaap, Victoria-Wes en Kimberley gekom om van Eva Mary Speek (108) afskeid te neem, sê haar broerskind, Relph Speek.

Speek is op 30 Junie ná ’n kort siekte dood.

Die begrafnis is op 9 Julie by haar huis in Eerstestraat, Saundershoogte, gehou waar sy saam met haar oudste dogter, Anna Speek-Visagie (64), gewoon het.

Speek was volgens Relph die oudste Speek-familielid wat op die eerste Speek-familiereünie in 2018 ’n toespraak gehou het. Meer as 100 familielede het dié geleentheid in Jacobsdal bygewoon.

Sy het kort daarna 105 jaar oud geword en gesê sy hoop om 150 jaar oud te word.

Relph beskryf haar roudiens as ’n groot partytjie en sê daar is ’n bees en tien skape geslag om van haar afskeid te neem.

Speek is op 24 Desember 1914 in Jacobsdal gebore en Relph dink sy het so lank geleef omdat sy op ’n plaas grootgeword en gebly het.

“Hulle het uit die tuin gelewe en uit die grond geëet.”

Hy sê sy het tot onlangs toe, voordat sy ’n maand of so gelede siek geword het, nog lekker gesels.

Sy het nooit Covid-19 gekry nie en was ingeënt.

Adam Speek, haar oorlede man, is op ’n jong ouderdom dood en sy het haar 15 kinders alleen grootgemaak.

“Sy was ’n lieflike mens en sy het almal met liefde aanvaar. Sy was egter baie reguit en het gepraat soos lap wat skeur,” sê Relph.

Speek is in Ratanang by Jacobsdal ter ruste gelê.


Cheréne Pienaar

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article