Vosburg, wat as ’n “ougat-dorpie” in die Bo-Karoo beskryf word, is die Noord-Kaap se finalis in die 2024 Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.
Omdat Vosburg net sowat 1 200 inwoners het, kan dié dorpie se stemme nie op hul eie die kompetisie wen nie. Dié Karoo-dorpie was vanjaar saam met Upington en Deben ’n Noord-Kaapse finalis, en is in die stemproses as die provinsie se wendorp aangewys.
“Dat hierdie ougat Karoo-dorpie dit tot daar gemaak het, is merkwaardig,” sê Anna Fourie van die Vosburg: Kwêla Dorp van die Jaar-komitee.
Vosburg in die Bo-Karoo het ’n gemeenskap wat mekaar respekteer en spontane omgee betoon. Baie gaan weg op soek na groener weivelde, maar keer weer na die warmte en geborgenheid van die kleindorp-familie terug. Die omgewing spog met verre horisonne, vars en potblou lug, lekkerruik-bossies en ’n sterreweelde. Dit verlei dikwels mense om na die beeldskone Karoo te verhuis, aldus inligting vanaf die komitee.
Fourie sê vanjaar het positiewe gebeure reeds in Vosburg afgespeel.
“Vosburg was deel van die Lottoland Help-’n-Dorp-program waar ons ’n ruim skenking ontvang het en ses projekte van Januarie tot Maart kon voltooi het. Dit was ’n fantastiese poging en groot opwinding in die dorp.”
Sou Vosburg wen…
’n Droomprojek is reeds beplan, vir sou Vosburg die Kwêla-kompetisie wen. ’n Gemeenskapsentrum staan sentraal in dié projek omdat die gemeenskap ’n eie plek begeer vanwaar opleiding, projekte en allerlei kursusse deurlopend aangebied kan word.
Dit sal tot voordeel van die individu wees, en ook vir die gemeenskap. So ’n sentrum sal ’n vriendelike en positiewe plek wees waar almal welkom is; ’n veilige hawe waar drome waar kan word.
In dié sentrum kan die strewe na ekonomiese onafhanklikheid aangespreek word met die begin van ’n liefdadigheidswinkel, bakkery, meubelvervaardiging, opleiding van plaaslike toergidse en huishou-studente, volwasse onderwysopleiding, en vele meer.
Die historiese sendingkerkie is reeds as die ideale sentrum identifiseer. Dit is sentraal geleë, maklik bereikbaar vir al die inwoners en boonop beskikbaar.
Volgens die komitee koester baie mense mooi herinneringe van die kerkie en die projek bied die geleentheid om dit vir ’n edel doel te laat herleef.
Die kerkie is een van die oudste geboue in die dorp, en is redelik groot. Dit is tans in onbruik en gaan baie restourasie verg, maar selfs dit kan reeds as ’n opleidingsgeleentheid gesien word.
Voortvloeiend uit die Droomprojek, wat die werwing en opleiding van student-vrywilligers insluit, word die volgende beplan:
1. Restourasie van die sendingkerkie: Vele vaardighede kan hiertydens oorgedra word, wat bou, pleister, verf, insit van vensterglas, sweis, elektries, loodgieterswerk, tuinmaak en die verfraaiing van die binnekant insluit.
2. Speelpark: Die huidige speelparkie is gesluit, en benodig instandhouding en vernuwing.
3. Braaigeriewe: Daar is nie ’n ontspanningsplek in die dorp of onmiddellike omgewing nie, en ’n groot behoefte daarvoor bestaan. Die nabygeleë sportterrein het ruimte waar ’n dienlike braaiarea gebou kan word.
4. Aalwynversameling: Die vroeëre openbare parkie by die dorp se hoofingang gaan in ’n natuurparkie met sitplek omskep word waar die versameling inheemse aalwyne beslis die oog in blomtyd gaan vang.
5. Sonkrag: ’n Sonpomp by een van die munisipale boorgate sal die ononderbroke voorsiening van water aan al die inwoners verseker.
6. Natuurbewaring: Vosburg stel reeds ’n voorbeeld met sy onlangse projek om die indringerbome, prosopus, te bestry. Die prosopus versprei uiters aggressief. ’n Volgende fase behels die herstel van daardie area deur inheemse bome, plante en grasse aan te plant. Die dorp se verbintenis tot natuurbewaring is reeds merkwaardig, die nuwe Botaniese Veldtuin ingesluit.
7. Begraafplaas: Dit weerspieël die gevoel van waardigheid in ’n gemeenskap. ’n Algehele netjiesmaak van die terrein en die herstel en nuutspan van die heining word beplan.
Ná die suksesvolle afhandeling van bogenoemde projekte sal elke student-vrywilliger ’n sertifikaat van bywoning ontvang om ’n CV te begin bou en sodoende hul toetrede tot ’n formele werk sal verbeter.
Dit alles word deur die Vosburg Buildings nie-winsgewende organisasie bestuur wat ’n gemeenskapskomitee is wat al 70 jaar funksioneer, en wie as die beskermheer optree. Dit bied integriteit en ’n veilige hawe vir fondse, skenkings en betrokkenheid.
- Vir navrae, bel Fourie by 082-519-7030 of skryf aan anna.fourie@icloud.com.
Stem só vir Vosburg
Die komitee doen ’n beroep op Noord-Kapenaars om vir Vosburg te stem. Die stemproses vir die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie het reeds Sondagaand 14 Julie begin.
- Stuur die woord “Vosburg” per SMS na 33157. Elke persoon kan tot 30 keer van een selfoonnommer stem. ’n SMS kos R1.50.
- Stemlyne is net oop tot Vrydag 19 Julie om 12:00.

