De Oude Pastorie Victoria-Wes
De Oude Pastorie in Victoria-Wes.

VICTORIA-WES – ‘n Deel van die oudste huis in Victoria-Wes in die Noord-Kaap is in ‘n fratsbrand beskadig. Hoewel De Oude Pastorie verseker was, is minder as die helfte van dit wat nodig is om die huis te herstel, uitbetaal.

Die eienaars wil graag die huis na sy volle glorie herstel ná die brand wat in Julie uitgebreek het. Hulle wil dit doen nie net om hierdie erfenisgebou vir die toekoms en volgende geslagte te bewaar nie, maar ook omdat dit ‘n werkende gastehuis is en hulle van dié inkomste afhanklik is.

De Oude Pastorie Victoria-Wes
Tydens die fratsbrand is die sipresboom voor De Oude Pastorie vernietig. Dié boom was ouer as die huis. Foto: Verskaf

De Oude Pastorie was die eerste pastorie van die plaaslike NG kerk en is die oudste huis in die dorp. Dit is saam met die plaaslike NG kerk gebou en die sleutel-oorhandiging vir albei was op 10 Maart 1850.

Ds. George Daneel, na alle waarskynlikheid die enigste oud-Springbok-rugbyspeler én predikant wat 100 jaar oud geword het, het in dié huis grootgeword. Sy pa was destyds leraar in die dorp. Daneel is in 2004 in die ouderdom van 100 jaar oorlede.

Ds. George Daneel in 1928. Hy het van 1928 tot 1932 vir die Springbokke rugby gespeel.

Nagenoeg 24 jaar gelede is De Oude Pastorie in ‘n gastehuis met vyf gastekamers met en-suite badkamers omskep.

De Oude Pastorie is binne stapafstand van die Apollo-teater wat in 1928 as ‘n bioskooplokaal deur Andrew Basil gestig is. Dit is die enigste Art Deco-rolprentteater in Suid-Afrika en behalwe films wat nog hier vertoon word, word musiekuitvoerings, kunsuitstallings en verskeie ander kulturele aktiwiteite hier aangebied.

Apollo-teater
Die Apollo-teater in Victoria-Wes, wat binne stapafstand van De Oude Pastorie is. Foto: Helena Barnard

Gemeenskap begin geldinsamelingsveldtog

Omdat gemeenskapslede van mening is dat die spoedige herstel van hierdie erfenisgebou nie net vir die eienaars, maar ook vir die gemeenskap en sy eiesoortige karakter van belang is, het hulle ‘n geldinsamelingsveldtog op BackaBuddy begin.

‘n Lid van die gemeenskap sê dat enige bydrae welkom sal wees.

Besoek Rande vir Restorasie – De Oude Pastorie op backabuddy.co.za om ‘n bydrae te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.