Die beleërde John Block, oud-Noord-Kaapse ANC-leier wat sy parool uitdien nadat hy in 2016 aan korrupsie skuldig bevind is, slaak ’n sug van verligting nadat ’n lastereis van R1,5 miljoen teen hom en nog ’n prokureur misluk het.
Sy destydse prokureur wat intussen oorlede is, moet egter R150 000 aan die oudregterpresident van die Noord-Kaap, regter Frans Kgomo, in ’n lastereis betaal asook die regskoste van die ander partye.
In die saak het Kgomo vir Block, sy destydse regsverteenwoordiger wyle Abel (Dali) Mjila, asook Nano Matlala, ’n prokureur, vir laster gedagvaar. Dit spruit uit Block se strafverhoor in 2016 waarin adjunkregterpresident Violet Phatsoane die voorsittende beampte was wat Block en Christo Scholtz skuldig bevind het. Block het sy politieke invloed gebruik om huurkontrakte aan Scholtz se Trifecta-maatskappye vir staatsdepartemente teen ongehoorde pryse te beding.
Block het voor sy destydse vonnisoplegging in ’n eedsverklaring beweer dat Kgomo onbehoorlike invloed op Phatsoane sou uitoefen en haar in ’n telefoniese gesprek sou aansê om Block skuldig te bevind.
Block se versoek aan Phatsoane om die verhoor uit te stel hangende ’n ondersoek na die beweringe is verwerp. Die eedsverklaring is toe by die hofsitting ingedien as deel van ’n spesiale inskrywing, en klagtes is by die Regterlike Dienskommissie ingedien.
In sy eis voer Kgomo aan sy waardigheid en integriteit is ernstig aangetas deur die publikasie van die ongegronde bewerings.
Block het verlede jaar dae voordat hy op parool vrygelaat is, getuig Mjila as sy destydse prokureur het hom vertel dat Matlala van die beweerde voorval by ’n ongeïdentifiseerde regter verneem het. Die ongeïdentifiseerde regter was glo in Kgomo se teenwoordigheid toe die telefoniese gesprek met Phatsoane plaasgevind het.
Block het sy regspan vertrou en op sy regte gesteun. Hy ontken dat hy lasterlike uitsprake gemaak het.
Wyle Mjila het in sy pleitstuk gesê hy het die inligting van Matlala verkry en dit in die teenwoordigheid van ’n senior advokaat met Block bespreek. Dit was sy plig as regsgeleerde om Block in te lig. Block, as kliënt, het verdere instruksies gegee. Die Mjila-boedel het in die hofsitting aangevoer hy het nie, en het geen motivering gehad om die storie op te maak nie
Matlala het op sy beurt in die getuiebank ontken dat die telefoniese gesprek ooit plaasgevind of hy iemand daarvan vertel het.
Regter Nathan Erasmus het in sy uitspraak van 13 Julie bevind dat Matlala nie verantwoordelik gehou kan word nie. Mjila het nie genoegsame bewyse ingedien om sy pleitstuk te ondersteun nie, en daar kan afgelei word dat hy verantwoordelik of gedeeltelik verantwoordelik was vir die fabrisering van die gewraakte stelling. Hy moes die inligting nagegaan het voordat verdere stappe gedoen is.
Wat Block betref, het hy redelik onder die omstandighede en sy regspan se raad opgetree. Daar was nie kwade bedoelings nie.
Die verhoorregter (Phatsoane) het die klagtes verwerp, asook die Regterlike Dienskommissie waarop Kgomo later gedien het. Sy lang en waardige loopbaan is onbetwis, en hy het ná die betrokke publikasie van die lasterlike bewerings na sy aftrede ook in ’n ander invloedryke pos gedien. Kgomo se eis was nie oor die geld nie, maar oor sy reputasie en waardigheid en die integriteit van die regbank wat aangetas is. Ná jare was die klad op sy naam nie skoongemaak nie, vandaar die lastereis.
Die Mjila-boedel moet R150 000 skadevergoeding aan Kgomo betaal, asook al die partye se regskoste. Die eise teen Block en Matlala is afgewys.


