’n Oudregterpresident van die Noord-Kaap was Maandag 7 November die eerste getuie in sy lastersaak teen John Block, voormalige Noord-Kaapse ANC-leier en LUR, asook sy twee voormalige regsverteenwoordigers wat elk ’n eis van R2,5 miljoen in die gesig staar.

Oudregterpresident Frans Kgomo het in die hooggeregshof in Kimberley getuig dat hy in ’n eedsverklaring deur John Block in Block se destydse strafverhoor belaster is, en sy reputasie, integriteit en waardigheid aangetas is.

Daar was beweer dat sy waardes soos onpartydigheid en regverdigheid ontbreek, hy nie geskik is om regterpresident te wees en die Grondwet respekteer nie. Benewens skadevergoeding, eis Kgomo ook terugwerkende rente en die regskoste van die geding.

Oudregterpresident Frans Kgomo

Die eis spruit uit Block se destydse korrupsieverhoor waarin hy in ’n eedsverklaring sou beweer Kgomo het aan die voorsittende beampte gesê: “Convict the bastard.”

Block het in sy verhoor in 2016 voor regter Violet Phatsoane in ’n eedsverklaring gesê Kgomo het onbehoorlike invloed op haar as die voorsittende beampte uitgeoefen. Dit was tydens die saak waarin Block en Christo Scholtz aangekla was van korrupte, peperduur huurkontrakte vir staatsdepartemente aan Scholtz se Trifecta-maatskappy. Block en Scholtz is skuldig bevind en ná ’n suksesvolle appèlaansoek na die appèlhof is Block se korrupsieskuldigbevinding en vonnis van 15 jaar gevangenisstraf bekragtig.

Gewraakte uitlating gemaak
Die gewraakte uitlating is na bewering in Block se verhoor as ’n spesiale inskrywing gemaak voordat die uitspraak gelewer is. Block se regspan het toe beweer ’n ongeïdentifiseerde regter het in Kgomo se teenwoordigheid ’n telefoniese gesprek gehoor waarin Phatsoane aan Kgomo sou sê sy het nie gronde om Block skuldig te bevind nie.

’n Klag is ook by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien maar is intussen deur die RDK verwerp.

Kgomo ontken dat so ’n gesprek ooit plaasgevind het of hy die uitspraak gemaak het.

Block en sy prokureurs, wyle Abel (Dali) Mjila en Nano Matlala, ontken hulle het lasterlike bewering gemaak of publiseer. In sy verweer ontken Block dat hy Kgomo se bevoegdheid en geskiktheid betwyfel het of dat die lasterlike bewering gepubliseer is. Block sê hy het bloot die raad van sy regsverteenwoordigers aanvaar.

John Block tydens ‘n vorige hofverskyning.

Mjila het destyds in sy verweer aangevoer Matlala het hom van die voorval ingelig. Omdat dit hoorsê-getuienis was en hy geen bewyse gehad het nie, het hy ene adv. Mphaga SC vir raad genader. Hulle het vir Block ingelig, wat moes besluit wat hy wou doen.

Matlala, wat in Pretoria praktiseer, het intussen sy teeneis van R4,5 miljoen teen Kgomo laat vaar. Daarin het hy aangevoer hy moes tyd en aandag aan Kgomo se “onwettige, ongrondwetlike en kwaadwillige eis” bestee en het daardeur sy inkomste verloor.

Matlala voer aan hy het nooit ’n gesprek met ’n ongeïdentifiseerde regter gehad of enige bewering aan Mjila oorgedra nie. Die lasterlike bewerings en beweerde reputasieskade moet bewys word.

Regter Nathan Erasmus lei die verhoor.

  • Intussen is die minister van justisie en korrektiewe dienste, sy nasionale- en streekskommissaris, die Upington gevangenishoof en die paroolraad Vrydag 3 November in ’n hofbevel beveel om redes te gee hoekom hulle nie weens minagting van die hof 30 dae gevangenisstraf opgelê moet word nie. Hulle moet voor of op 10 November ’n vroeëre hofbevel van 15 September nakom, waarin gelas is dat die paroolraad Block se mislukte paroolaansoek binne 20 dae hersien.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), sê dat Block steeds sy vonnis uitdien en dat hy nie vir presidensiële kwytskelding kwalifiseer nie.

“Hy het nog nie sy minimum vonnis uitgedien nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.