Die onlangse ossewatrek by Ottosdal wat deur lede van die Trekboervereniging georganiseer is, was een groot lekkerte.
So sê John Roderick van Kimberley, ‘n Trekboervereniginglid, wat met sy transportwa saam getrek het. Louw de Klerk, sakeman van die Puma-vulstasie in Kimberley, het vir hom ’n sleepwa geleen om sy wa na Ottosdal te bring.
Die trekgeselskap het uit sowat 35 mense bestaan, waarvan baie volwassenes en kinders van Ottosdal, Pretoria en Johannesburg betaal het om deel te neem.
Die Trekboervereniging het die trek met behulp van die Rapportryers se Jakaranda-tak van Pretoria en die FAK gereël. Dit is ’n geldinsamelingsveldtog vir die Trekboervereniging wat geld benodig om hul osse in Desember na Bloedrivier vir die 185ste viering van die Groot Trek te neem.
Jaco van Rensburg het sy nagmaalwa van Kemptonpark na Ottosdal gebring, en Piet Breytenbach van Ottosdal het ‘n nagmaalwa en ? kaalwa gebruik.
Van Rensburg se osse bly saam met Breytenbach s’n waar hulle geleer word om te trek. Twee waens is deur osse getrek, die ander is deur trekkers gesleep. Die brandhout en water is op sommige waens aangery. ’n Mobiele toilet is ook saam karwei.
“Ons het ’n sirkelroete van sowat 40 km oor ses dae gery. Die gemiddelde afstand was 10 km per dag. Hoewel ons elke aand op ’n ander plek wou slaap, is ons deur ’n gebreekte disselboom gedwing om ’n dag by een van die stanings oor te staan. Nood leer bid en is moderne toerusting gebruik om die herstelwerk in Ottosdal te doen. Die osse het ook drie jukke gebreek, en ’n ander een sleg gekraak.”
Te midde van die reën het die osse die waens deur modder wat tussen 10 cm en 20 cm dik was, getrek.
Hulle het heerlik geëet, sê Roderick. Die geselskap was in kosspanne verdeel wat elke aand kos soos ’n hoenderpotjie of vetkoek en maalvleis op die vuur moes maak, hoewel hulle een aand lasagne geëet het wat op die vuur warm gemaak is. Mielies is ook in hul groen blare gebraai. Soggens het hulle of pap en wors, roereiers en kaiings en van die vorige aand se braaivleis geëet. Vars toebroodjies vir middagete is van Ottosdal gebring. Hendrik Strauss van Bloemhof en die Gutter-gesin van Brandfort het die trek se spens met vleis opgevul.
“Die leeuplaas waarlangs ons een aand geslaap het, het pret besorg. Die leeus het omtrent gebrul, daardie aand was die osse doodstil… Ons het ook een aand naby die graf van Siener van Rensburg geslaap.”
Roderick het verhale uit die Groot Trek vertel en ’n pangeweer-demonstrasie gehou terwyl Breytenbach en Van Rensburg stories oor osse vertel en die verskillende soorte waens beskryf het.
“Dit was wonderlik om te sien hoe die stadskinders leer vuurmaak en vleisbraai, en saans saam met ons na die sterre gekyk het.”
Die skilder Pieter Wentzel het die waens, osse en mense soos Roderick, die Van Rensburg- en Breytenbach-egpare geskilder wat in tradisionele klere getrek het.


