Die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks het die afgelope naweek begin met die eerste ronde-bepalings tussen die agt deelnemende skole.
Die reeks, met Wesgrow as amptelike naamborg, het reeds die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media as borge verwelkom.
VKB en Edutrace word ook as mede-borge vanaf die 2025-seisoen verwelkom.
Die samewerkingsooreenkoms met die nuwe borge sluit planne in om die reeks verder uit te brei en selfs ‘n onderliggende reeks op dieselfde formaat te begin waarby ander skole betrek kan word.
Massa-deelname en gesonde mededinging bly die grondslag waarop die reeks ontwikkel is en alle deelnemende skole word gebind tot ‘n etiese kode vir deelname en verplig om ‘n sekere minimum aantal spanne per kode in te skryf.
Die afgelope naweek het die Hoërskool Diamantveld gasheer gespeel vir die Hoërskool Witteberg in Kimberley, terwyl Bethlehem Voortrekker Hoërskool, die 2024 algehele titelhouer in die reeks, kragte gemeet het in Bethlehem teen die Hoërskool Sentraal.
Die Hoërskool Jim Fouché het na Kroonstad gereis om teen die Hoërskool Trio kragte te meet.
Die Hoërskool Fichardtpark het in Bloemfontein reggestaan om mee te ding teen die Goudveld Hoërskool van Welkom.
Die reeks word op ‘n enkelronde formaat beslis.
Dit beteken dat elke bepaling, in elke ouderdomsgroep van uiterste belang is om skole se finale plekplasing aan die einde van die seisoen te bepaal.
Die algehele wenner van die reeks word bepaal nadat alle wedstryde in alle kodes afgehandel is.
Die reeks behou sy verbintenis met SuperSport wat danksy sy SuperSport Schools-platform wedstryde aanlyn uitsaai.
Dit maak dit moontlik dat die reeks wat oor drie provinsies strek, verdere blootstelling aan alle belanghebbendes sal gee.





