Met die laai van tonne saamgepersde bale met herwinbare rommel, weet die burgerlike organisasie A Kheis of Hope van Groblershoop dat sy optrede om die dorp op te ruim, vrugte begin afwerp.
“Ons is super opgewonde”, sê Anta de Jager oor dié organisasie, wat ook ten doel het om elke inwoner hoop te gee en te laat besef dat elkeen se bydrae ’n verskil maak.
“Hoop met aksie” is die saadjie wat geplant is, en die betrokkenheid van die gemeenskap sedert die eerste opruiming is oorweldigend, sê De Jager.
“Van die vullis gaan uiteindelik iewers heen vir herwinning,” sê sy, ongeag struikelblokke wat nog voorkom.
Johannes Fourie, ’n aktiewe gemeenskapslid en boer, vertel dat Sharron Olivier en haar span van ses hoofsaaklik verantwoordelik is om die rommel te sorteer en te kompakteer. Die kompakteermasjien word gehuur. Olivier en haar span werk op ’n deel van die vullisterrein wat die boerevereniging gratis vir haar voorberei het, en deur die ! Kheis-munisipaliteit vir haar afgekamp is.
Volgens Fourie het die span ongeveer twee maande aan die 61 bale van sowat 18 ton gewerk, wat uit onderskeidelik herwinbare plastiek, plastiekbottels en karton bestaan.
“Hulle het bitter hard gewerk,” sê Fourie.

Die bale, as ’n deelvrag, is in die laaste week van Oktober deur Brand Vervoer gelaai en na Kathu geneem. Verskeie belanghebbendes in die gemeenskap het tot die sukses hiervan bygedra, onder meer met die verskaffing van personeel, toerusting, massasakke en toue.
“Jy kan superkla, maar dit gaan nie ’n verskil maak nie. Ook nie shame en blame nie – net hande vat maak ’n verskil,” sê Fourie, wat sê dat by ’n onlangs Nampo-oesdag 77 boere vertel het hoe hulle in hul gemeenskap betrokke geraak het.
“Dit het ons inspireer om ook iets te doen. Begin met dit wat binne jou bereik is,” raai hy aan.
Met dié opruiming in Groblershoop stap die mense van die dorp en die omgewing ’n pad saam. Fourie sê dit is nie net ’n fisieke proses nie; dit lei ook na geestelike skoonmaak.
’n Volgende opruiming word vir later in die maand beplan. Bel De Jager by 072-447-6740 vir meer inligting.



