Feuke Mostert is een van vier opkomende vroueboere van Loeriesfontein wat deel was van ‘n groep gemeenskapsboere wat onlangs deelgeneem het aan ‘n weeklange dorperskaap-opleidingskursus in Williston.
Die opleiding, moontlik gemaak deur samewerking tussen die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook Loeriesfontein en Khobab-windkragaanlegte, was daarop gemik om boerderypraktyke te versterk en langtermyn-veerkragtigheid vir kleinskaalse boere in die gebied te bou.

Deur die opleiding is deelnemers toegerus met noodsaaklike kennis oor dorperskaap-rasstandaarde, effektiewe teelmetodes, dieregesondheidsorg en huidige markneigings. Hulle het deelgeneem aan praktiese sessies wat moderne tegnieke bekendgestel het om die gehalte van hul vee te verbeter en die risiko van siektes te verminder.
“Die opleiding het my geleer hoe om ‘n dorperskaap te evalueer deur na sy sleutelkenmerke te kyk, van bouvorm en kopstruktuur tot middelstuk en pigmentasie, alles in lyn met die rasstandaard. Ek voel nou vol vertroue om ingeligte besluit te neem wanneer ek ‘n ram of ooi by ‘n veiling koop,” sê Mostert.
Benewens die praktiese kennis, het die program Mostert se ambisie om haar boerdery uit te brei, aangewakker.
“Om vir hierdie program gekies te word, was so ‘n voorreg. My droom is om eendag die eerste vroueboer in my gemeenskap te word wat met trots met dorpers boer.”
Opleiding bemagtig plaaslike boere
Die opleiding vorm deel van ‘n breër strategie om plaaslike boere te bemagtig met die kennis en gereedskap wat nodig is om produktiwiteit te verhoog, veegehalte te verbeter en winsgewendheid te verhoog. Die windplase het die volle koste van opleiding, maaltye en verblyf gedek, en die departement het vervoer vir die deelnemers verskaf.
LEES OOK: Verbeterde gimnasium bevorder welstand in Loeriesfontein
“Hierdie ondersteuning verteenwoordig ‘n belegging in landelike ekonomiese groei en langtermyn gemeenskapsopheffing. Deur toeganklike landbou-opleiding wat inkomste inbring, te befonds, help ons om ‘n meer veerkragtige plaaslike ekonomie te bou waar landbou noodsaaklik is,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir Loeriesfontein en Khobab-windkragaanlegte.
Die program bied ook ‘n kritieke geleentheid vir die projekmaatskappy om met regeringsdepartemente saam te werk om gemeenskapsontwikkeling te bevorder.





