Die brand in die Mokala- Nasionale Park buite Kimberley wat die naweek begin het en oor dae heen gewoed het, is een van enkele brande wat die Noord-Kaap die afgelope weke teister.
Intussen het die brandopleiding-sessies wat landbouorganisasies vanjaar in samewerking met die provinsiale departement van landbou en omgewingsake gehou het, reeds vrugte afgewerp. Brande is meer doeltreffend as in die verlede beheer.
Só sê Janine Byleveld, Agri Noord-Kaap bedryfsbeampte vir ekonomie, handel en natuurlike hulpbronne.
“Ons het al van die data oor die skade aan weiding, diere en infrastruktuur ontvang, maar wag nog op meer inligting sodat ons ’n ingeligte beeld kan vorm.
“Die ander brande die afgelope weke het by Severn en Askham voorgekom, waar sowat 3 000 ha verwoes is. Vroeër het ’n brand by Douglas ook skade aangerig, maar dit was nie so wydverspreid nie. Daar was ook ’n brand tussen Koopmansfontein en Windsorton.
“Die jongste brand het Sondagoggend (04/09) by Mokala begin en na Modderrivier versprei.
“Die brandopleidingsessies wat ons oor die afgelope maande op verskillende plekke gehou het, het beslis gewerk. Dit is gehou in die gebiede van Kuruman, Postmasburg, Delportshoop, Vaalharts en Hopetown, wat geneig is tot groot brande. Volgende maand word daar opleiding in Upington, tot by Kakamas, beplan.”
Johan “Savage” Breytenbach, bestuurder van die Vrystaatse sambreelbrandbestrydingsvereniging help met die koördinering.
“Intussen is die Kimberley-lughawe op ’n gereedheidsgrondslag om vliegtuie van water en brandstof te voorsien. ’n Span van Working on Fire is op die grond. Ons het toerusting soos blasers gekoop waarmee die vlamme in ander rigtings geblaas kan word.”
Een van die onvoorsiene gebeure is die maatreëls wat ingestel is om die uitbreek van bek-en-klouseer te bekamp. Dit verhoed dat beeste in gebiede waar daar brande was na ander weiding verskuif kan word.
“Ons is egter in samewerking met die departement van landbou besig om te bepaal waarheen ons voerbale moet stuur. Die departement het die afgelope maande ’n voorraad bale opgebou.”
Byleveld sê hulle het reeds stigtingsvergaderings vir sambreelbrandbestrydingsverenigings in drie van die provinsie se vyf distrikte gehou, waarby staatsentiteite soos Eskom en Transnet as lede betrokke is. Hulle moet soos ander lede voorsorg tref en hul eiendomme skoonmaak om brande beter te bestuur.
Wiaan van der Linde, eienaar van Wintershoek Wild, sê boere is beslis beter voorberei op brande as in die verlede. Hoewel hy aan Mokala grens, het die brand hul plase, soos verlede jaar, nie bereik nie.
“Die brand by Mokala is binne twee dae onder beheer gebring. Die wind het ook nie so kwaai gewaai dat dit ver versprei het nie. Teen Maandagaand het bome nog gesmeul.”


