Op die prysuitdelingsgeleentheid is van links, voor: Naledi Lenoge, Boipelo Martins en Neo Pule

Om studente met naaldwerkvaardighede toe te rus was die VLV Kuruman-tak die afgelope lente by ’n “Training the trainers”-projek betrokke waartydens die studente as toekomstige instrukteurs opgelei is.

Tydens die projek van die Skills for Growth Hub Academy (The Entrepreneur Factory) is dié studente van Kuruman, Kagung, Maruping, Batlharos, Motibistad, Heuningvlei, Promiseland en Bloemfontein toegerus om die presiese kursus in hul gemeenskappe en dorpe aan te bied.

“Ons glo dat hulle geweldige veranderinge aan hul eie huishoudings en onmiddellike gemeenskappe sal bring,” sê Karin van der Walt, uitvoerende hoof van Kalahari Original asook die bedryfshoof van Skills for Growth Hub en die sameroeper van opvoeding en kultuur by die VLV Kuruman-tak.

Op die prysuitdelingsgeleentheid is van links, voor: Naledi Lenoge, Boipelo Martins en Neo Pule; middel: Pat Mocumi (uitvoerende hoof van Skills for Growth Hub), Boitshwarelo Thebe, Kedumetse Morolong, Alta Roets, Liana Muller, Karin van der Walt, Marianne Vorster, Renette Joubert, Elsabé Hennig en Gilbert Ntsietsang; agter: Keamogetse Hartebees en Tshego Ganenang. Inlas: Mpuse (Puseletso) Motaung.

INLAS: Puseletso Motaung.

Die prysuitdeling het op Woensdag 6 Desember in Kuruman plaasgevind.

In samewerking met Bernina RSA ontvang elke student nie net opleiding vir vier weke nie, maar wanneer hulle die slaagsyfer van 75% behaal, ontvang die persoon ’n eie stel masjiene. Die 11 studente wat aan die vereistes voldoen het, het elk ’n Bernette Academy-naaldwerkmasjien en ’n Nina 9102D omkapmasjien ontvang.

Hul uitslae is soos volg:

Liana Muller en Kedumetse Morolong deel die eerste plek met 81%. Muller het ook die Lugkasteel-trofee by die VLV Kuruman-tak se prysuitdeling ingepalm.)

Renette Joubert en Neo Pule is gesamentlik tweede met 80%.

Puseletso Motaung is derde met 79%, terwyl Bapelo Martins en Gilbert Ntsietsang albei 78% in die vierde plek behaal het.

In die vyfde plek is Keamogetse Hartebees met 77%.

Die sesde plek word gedeel deur Naledi Lenoge en Tshegofatso Gananang, wat albei 76% behaal het.

Boitswarelo Thebe slaag met 75% en is in die sewende posisie.

Hierdie projek bring liefde vir naaldwerk terug en die studente leer die nuutste tegnieke op die beste masjiene beskikbaar.

In samewerking met die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT), het die studente naaldwerkpatrone vir onder meer skooldrag, vakmanoorpakke en verpleegstersuniform ontwerp en is dit SABS-gegradeer. Hierdie patrone behoort aan die studente ná voltooiing van die kursus.

Lede van die VLV Kuruman-tak wat die prysuitdeling bygewoon het is, van links, Alta Roets (saamroeper vir gesondheid), Liana Muller (student), Karin van der Walt (uitvoerende hoof van Kalahari Original, bedryfshoof vir Skills for Growth Hub en saamroeper vir opvoeding en kultuur), Marianne Vorster (voorsitter van die VLV Kuruman-tak), Renette Joubert (student) en Elsabé Hennig.

Die VLV Kuruman-tak bedank die Progressive Association of Women wat die klas finansier het. Dit is ’n nie-winsgewende organisasie wat ekonomiese groei in plaaslike gemeenskappe ten doel het.

Hierdie inisiatief het die potensiaal om nul-inkomste-gemeenskappe in vooruitstrewende sakesentrums te verander, en die projek kan elke gemeenskap in die Noord-Kaap ophef deur fabrieke wat persoonlike beskermingstoerusting (PPE) vir onder meer plaaslike myne en ondernemings kan vervaardig.

vlv

Liana Muller (regs) het onlangs die Lugkasteel-trofee, vir ’n VLV-lid wat haar drome najaag, ontvang. Sy was die VLV-lid wat die beste in die “Training the trainers”-projek gevaar het. Hier ontvang sy die trofee by Hettie du Plessis-Krüger (mediaskakelbeampte van die VLV Kuruman-tak) wie dit drie jaar gelede geskenk het. Karin van der Walt het dit in 2021 en 2022 gewen.

Bernina RSA was die afgelope drie jaar van groot waarde in die opleiding van tegnici wat die masjiene diens en herstel.

Kalahari Original, as die Bernette Kuruman-agentskap, verskaf al die masjiene en is verantwoordelik vir die waarborge en tegniese ondersteuning.

  • Kontak vir Van der Walt by Karin@SkillsforGrowth.net om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.