Die mees fanatiese ondersteuner van die Griekwas-rugbyspan, Eric Reginald Oliver (88), ofte wel oom Bushy, is op 29 September aan Covid-19-verwante oorsake in die Mediclinic Gariep in Kimberley dood.
Hy is vroeg in September geopereer nadat hy geval en sy heup gebreek het.
“Oom Bushy was die toonbeeld van genadelose passie. Nie eens die Suid-Afrikaanse Rugby-unie kon hom stuit om langs die veld te staan wanneer sy geliefde Griekwas gespeel het nie,” sê André Markgraaff, voormalige Springbok- en Griekwas-afrigter.
Oom Bushy was op sy gelukkigste wanneer hy die Poubloues kon ondersteun; iets wat hy 66 jaar lank gedoen het.
’n Verbyry-stoet word beplan vir Vrydag (08/10) van 10:00 tot 11:00 by Tafel Lager-park, en ’n private begrafnisdiens vir Donderdag (07/10).
Besoek die Facebook-blad Griquas Rugby – G.W.R.U. vir inligting oor die regstreekste uitsending.