Daar is nie ’n manier dat jy 25 jaar ’n besigheid kan hê sonder die hulp van die Here en die gemeenskap nie.
Leona Goodchild-Roos sê haar praktyk, Leona Goodchild-oogkundiges, het gegroei te danke aan die ondersteuning van pasiënte.
Op die jong ouderdom van 23 het Roos haar eerste praktyk op 4 September 1995 in Kathu geopen.
Dit was destyds die eerste oogkundige praktyk wat in die myndorpie gevestig is, en nou is dit ’n kwarteeu later steeds deel van die Kalahari.
Sy onthou nog haar eerste pasiënt. Sy het Elsa van Wyk beloon deur haar bril vir haar gratis te laat maak.
Haar man, Gerrit Roos, het later deel van haar praktyk se bestuur geword. Sy het ’n tweede praktyk in Kuruman oopgemaak en besit ’n ten volle toegeruste laboratorium in Kathu om spoedige diens te verseker.
Tans is daar ses personeellede: Patricia Jonathan, Cathrine Lombaard, Ilana Meyer, Monique Mulder, Lettie Besselaar en Shonita Basson.
Jonathan het saam met die praktyk gegroei.
“Sy is soos ’n ma vir my. Sy het my basies in die praktyk groot gemaak,” sê Roos.
Oor haar gewildheid by inwoners, sê sy ’n pasiënt het dit vir haar so mooi gestel.
“Die vrou het gesê toe sy by ander oogkundiges was, het dit gevoel asof hulle haar ’n guns doen om haar te help. Maar toe sy die dag hier inloop, was almal behulpsaam en vriendelik.”
Roos sê sy en haar personeel wil net die gemeenskap dien. Sy het talle mense in en om die dorp se lewe verander. Sommige mense bars in trane uit wanneer hulle vir die eerste keer hier ’n bril opsit. Van hulle sê dit is die eerste keer in jare dat hulle mooi kan sien.
Nog ’n pasiënt het gesê nou kan hy uiteindelik vir sy vrou juwele koop. Hulle het nog nooit so baie geld op brille gespaar nie. Dit was altyd so duur, het hy verduidelik, maar nou kan hy haar ’n bietjie bederf vir haar verjaardag.
Roos sê mense moet ten minste een keer elke twee jaar hul oë laat toets. Dit gaan nie oor die bril nie, maar is ter wille van gesondheid.
“Ek kan so hartseer raak as mense uit moeilike omstandighede nie hul oë wil laat toets nie. As daar iets is wat jou visie bedreig, wil ek jou dieselfde dag sien. As jy nie geld het nie, kan ons ten minste net kyk wat fout is en ’n verwysing doen.”
Sy sê dit is belangrik vir mense om te besef jy het net een paar oë.
“Oë kan nie soos tande vervang word nie.”