Dominique McAnda, versamelingbestuurder: Westerse Materiële Kultuur by die McGregor-museum in Kimberley is gek na haar werk in die museumwêreld. Sy is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Museumvereniging (Sama) met die prestigeryke FitzSimons-eerbewys vereer tydens die jaarlikse konferensie in Johannesburg.
Die FitzSimons-eerbewys word jaarliks aan die aanbieder van die beste referaat by Sama se nasionale konferensie toegeken.
Dominique sê museums moet aanpas by die veranderende wêreld, “anders word alles irrelevant. My visie is om museums prettig, toeganklik en relevant vir ‘n wyer gehoor te maak, insluitend jonger besoekers, eerder as net volwassenes.

“Museums is universeel en kan nie as eksklusief of as elite-agtig beskou word nie,” sê sy. “Museumpersoneel is die belangrikste deel van die museum, want hulle is die eerste indruk wat besoekers van museums kry.”
Die gebore-en-getoë Kimberliet, wat reeds 18 jaar by die McGregor-museum werk, het ‘n kwalifikasie in erfenispraktyk.
Haar passie vir museums spruit uit ‘n romantiese siening van geskiedenis.
“Jy voel jy leef in die verlede wanneer jy in daardie ou Victoriaanse gebou werk, omring deur historiese items.”
Dit is vir haar wonderlik as sy soggens by die werk aankom om die Victoriaanse wêreld te betree, en saans met huistoegaantyd, is sy weer terug in 2025.
Wenreferaat toonbeeld van vernuwende denke
Dominique se wenreferaat,“Die verandering van die narratief van ‘n museum as ‘n statiese en onbuigsame liggaam om meer persoonlike en aanlynbesoeke te dryf,” het sy aanlyn gelewer.
Die referaat was deel van die konferensiesessie oor die bou van veerkragtige gemeenskappe deur erfenis en kultuurtoerisme as ‘n instrument vir volhoubare ontwikkeling. Vir haar verdiep innoverende projekte mense se museumervaring.
Die konferensietema het gehandel oor die vinnigveranderende gemeenskap, wat ook die tema was vir Internasionale Museumdag. Dominique se benadering fokus op die transformasie van museums van statiese geboue tot meer buigsame en inklusiewe ruimtes wat die gemeenskap bedien.
“Een van die museum se mees suksesvolle inisiatiewe is die Private Bob-projek wat vroeër vanjaar plaasgevind het. ‘n Pop uit die museum se versameling is soos ’n soldaat (weerman) aangetrek. Die storie was dat hy weggevoer is na ander versamelings en verskillende satellietmuseums, waar ons hom moes soek. Foto’s van Private Bob by verskeie plekke is op Facebook geplaas, en die publiek is uitgedaag om die liggings te identifiseer.
LEES OOK: The mystery of Private Bob’s disappearance: A museum adventure
“Die mense het nogal reg geraai, en die terugvoering was wonderlik. Ons sosiale mediaverkeer het binne ’n maand verdubbel sonder duur toerusting of gevorderde videosagteware. Dit het aanvanklik vir opskudding gesorg toe sommige mense, selfs personeel, geglo het die pop is gesteel.”
Die museum bied kwartaalliks drie-gang etes aan wat deur Andrew Benjamin, deeltydse sjef en deelnemer van Kokkedoor: Vuur en Vlam voorgeberei is in die historiese Dunluce- en Rudd House, asook die Duggan Cronin-galery.
“Hierdie eksklusiewe etes skep ‘n unieke, eksklusiewe produk vir Kimberley wat besoekers lok wat op soek is na ’n unieke ervaring in ‘n ongewone omgewing.”
Die maandelikse liefdadigheidsmarkte by die McGregor-museum se gebouekompleks trek ook die gemeenskap na die museum, so ook die geleenthede wat deur Gail Kotzé en Cassi Warren van Slice of Nice by die museum aangebied word.



You must be logged in to post a comment.