Die verhoor van die sewe beskuldigdes wat van die aanval verdink word waarin Piet Els en sy vriendin aangerand en hy vermoor is, gaan Maandag (22/08) voort nadat hul aansoek om ontslag Vrydag in die hooggeregshof in Kimberley misluk het.
Dit kom nadat regter Lawrence Lever betoë van al sewe, wat aangevoer het daar is te min bewyse teen hulle om skuldig bevind te word, aangehoor het.
Van die beskuldigdes is van sekere aanklagte vrygespreek.
Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal, staan tereg op ses aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is op 24 Januarie 2018 in sy slaapkamer met ‘n strykyster gemartel en aangerand. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.
Zuma het van KwaZulu-Natal na Mbombela gery omdat hy glo ou munte in Kimberley wou opgrawe en spoke verjaag. In Mbombela het hy vir Ndlala; Maja, haar man; asook vir Mahomane, ‘n familielid van Ndlala; en Mbokane opgelaai omdat hulle rituele vir hom in Kimberley moes uitvoer.
Die tweede groep mense is Amos Ralihlare (wat ook ‘n rol gespeel het) en sy vriendin by wie se huis Zuma en sy geselskap in Galeshewe aangekom het.
Die derde groep is drie Sotho-sprekende mans wat die aanval uitgevoer het.
Adv. Japie Schreuder het namens Rankali aangevoer dat sy DNS nie op die moordtoneel gevind is nie. Hy kan ook nie met selfoongetuienis verbind word of by ‘n komplot om die roof te sou pleeg, betrek word nie.
Schreuder het namens Maja gesê hy en sy vrou het saam met Zuma gereis om rituele vir hom te doen.
In sy betoë het adv. Themba Diba vir Qhautse aangevoer die staat kan nie bewys hy is die eienaar van enige van die twee pare tekkies wat die polisie by sy huis gevind het nie. Die sole stem ooreen met gipsafdrukke wat op die moordtoneel geneem is. Geen DNS verbind hom met die tekkies nie.
Adv. Renier Pieterse het namens Ndlala erken sy het net saam met Zuma en ander na Kimberley gereis, en was nie by die huisroof betrokke nie.
Mahomane plaas homself op die toneel ten tyde van die misdaad, maar distansieer hom van die sameswering, aanval en moord, het Pieterse aangevoer. Zuma het hom en die drie aanvallers, wat hy nie geken het nie, afgelaai.
Hy sowat ? halfuur buite Els se huis gewag. Toe hy ingaan het hy gesien hoe Els en Alsemgeest aangerand word, en ? huilende Alsemgeest vir Els vra om die kluis oop te sluit. Hy het uitgegaan en na die teerpad geloop waar Zuma hom opgelaai het.
Terug in Galeshewe het Zuma die teenwoordiges elk R10 000 gegee, “waarskynlik om hul swye te koop”.
Pieterse het ook namens Mbokane aangevoer hy het as tradisionele geneesheer geweier om in die nag te werk, en was nie naby die moordtoneel nie.
Chande Booysen het namens Zuma aangevoer hy het Ralihlare se koerantadvertensie gesien waarin hy mense kan help om munte op te grawe en spoke te verjaag. Met hul aankoms in Kimberley het Zuma sy selfoon aan iemand geleen, aan die slaap geraak en eers weer die volgende oggend wakker geword. Ná ‘n argument met Ralihlare het hulle vertrek.
Volgens Zuma is die polisie se ondersoek ongeloofwaardig en is hy onregverdig uitgesonder.
Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het aangevoer die beskuldigdes moet die bewyse teen hulle en selfoongetuienis wat onderlinge kommunikasie voor, gedurende en tydens die aanval toon, verduidelik. Elkeen het ‘n rol in die misdaad gespeel. Omdat hulle hul weergawes aanpas en vingers na mekaar wys, kan dit die staat se saak steun.
Rankali is kort na die voorval in besit van Els se trouring gevind. Die diamant daarin was vermis en dit was in twee stukke, veilig in sy identiteitsdokument versteek. Hy en sy broer, Karabo Rankali, het gereeld in die blou Audi gery waarmee Zuma glo die aanvallers na die plaas aangery het.
Rankali het volgens die polisie erken hy het binnekennis van die aanval en vingers na Qhautse gewys. Qhautse is kaalvoet in ‘n vriend se sinkhuis gevind, asook twee pare tekkies waarvan die sole met spore op die toneel ooreenstem. Minstens een van die pare tekkies behoort aan hom, meen Cloete.
Die bejaarde egpaar het die jonger Mahomane as hul voetsoldaat saamgeneem om die “vuil werk” te doen, voer Cloete aan. Mahomane was die vierde aanvaller, die ander drie Sotho-sprekend.
Op sy beurt beweer Mbokane dat Zuma hom vertel het van die persoon in Kimberley met Krugermunte.
“Dit is nie ‘n gees wat verdryf moes word nie, maar iemand”, het Cloete aangevoer. Die munte is ook nie die veld opgegrawe nie.
Zuma se aanvanklike verklaring verskil beduidend van sy weergawe in die verhoor omdat hy dit aanpas. Die selfoongetuienis toon vele oproepe na en van Zuma se selfoon en bewegings rondom die misdaadtoneel ten tyde van die voorval.
‘n Polisieman wat daardie nag patrollie gery het, het iemand met Zuma se beskrywing naby die moordtoneel by die Audi-voertuig opgemerk.


