Met vars mango’s wat in die somer algemeen beskikbaar is, is dit lekker om jouself met ’n eksotiese ontbyt te trakteer.
Die mango’s kan reeds die vorige aand afgeskil, in blokkies gesny en in die yskas gebêre word.
Tropiese granola-ontbyttertjies is ideaal vir ’n somerontbyt. Dié resep lewer ses tertjies en neem 40 minute om te maak.
Bestanddele
Vir die tertdoppies
- 1½ koppie hawermout
- ¼ koppie sonneblomsaad
- ½ koppie swart sesamsaad
- knippie kaneel
- 1 teelepel vanielje-ekstrak
- ¼ koppie heuning
- 1 eierwit
Vir die vulsel
- 1 koppie vanielje-jogurt
- ½ mango, in blokkies gesny
Maak só
Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ronde foeliekoppies (ongeveer 7 x 3 cm) met ’n kleefwerende sproei en hou eenkant.
Meng die hawermout, sade, kaneel, vanielje, heuning en eierwit in ’n mengbak tot goed gemeng.
Verdeel die mengsel tussen die koppies en druk dit onder en teen die kante vas om bakkies te vorm.
Bak dit vir ongeveer 15 minute, of tot goudbruin.
Gebruik ’n teelepel om die bodem en kante plat te druk en bak vir nog tien minute. Los dit om heeltemal af te koel.
Vul die afgekoelde tertbakkies met die jogurt en plaas die mango-stukkies bo-op.
Die tertjies kan vir ’n week lank in ’n lugdigte houer in die yskas gebêre word.