Die onsekerheid oor wanneer rugby te midde van die Covid-19-pandemie gaan hervat, gee nie net vir spelers grys hare nie, maar ook vir afrigters. Hulle moet immers seker maak hul spelerskorps bly positief.
Scott Mathie, afrigter van Griekwas, erken dit is ’n opdraande stryd. Anders as die plaaslike spanne wat aan die Super- en Pro14-reeks deelneem, het die Poubloues vanjaar nog niks rugby gespeel nie.
“Dit is nie maklik nie. Ek dink ons almal – die spelers en bestuur – deel die frustrasie van die situasie. Wat ons wel besef, is dat ons daarby moet aanpas.
“Dinge verander gedurig, so ons probeer regtig net om op elke dag te fokus. Ons (spelers en afrigters) is gedurig in kontak, want hoe meer ons kommunikeer, hoe meer verstaan almal dat ons saam hierin is. Dan kan ons in dieselfde rigting beweeg,” sê Mathie.
Die span van Kimberley sal wil wys dat dit geen vloekskoot was toe hy in 2019 in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gespeel het nie, maar daar is nog nie sekerheid oor wanneer – en óf – vanjaar se reeks beslis gaan word nie.