Die openbare beskermer (OB) het nog nie die beloofde omvattende regrukplan van dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, ontvang waarin hy moet verduidelik hoe die groeiende riooldam buite Kimberley gestuit gaan word nie.
Dit volg op Busisiwe Mkhwebane, OB, se besoek na aanleiding waarvan die premier twee weke gegun is om met ’n plan vorendag te kom. Oupa Segalwe, haar woordvoerder, sê hulle het nog nie die verslag ontvang nie.
Die dam en die swak toestand van die R31-roete, wat deur die watermassa begrens word, het ontstaan weens lekkende munisipale pypnetwerke wat sedert 2002 nie herstel is nie, sê die OB. Sy en haar personeel het onaangekondig in die stad opgedaag om klagtes te ondersoek, onder meer rakende die riooldam.
Die departement van openbare werke en paaie gaan glo binnekort die pad met 1,5 m lig.
“Dit is soos om grimering oor ’n gapende wond te plak,” het Mkhwebane gesê.
“Die vervalle grootmaatinfrastuktuur van die Sol Plaatje-munisipaliteit moet vervang word. Die probleem is in 2002 geïdentifiseer en sou toe R1 miljard kos. Dit gaan nou R5 miljard kos.”
Die EFF het sy kommer oor die padstruktuur uitgespreek en het die dam verlede jaar na die premier genoem. AfriForum het in 2016 strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder gelê. Die DA het ook te velde getrek omdat die dam oor die Platfontein-gemeenskap se plaas strek en hul regte skend.
Brian Culver, ’n inwoner wat die probleem reeds in 2016 aangemeld het, sê water uit stukkende pypnetwerke vloei steeds in die dam.
“Dit help nie om miljoene te bestee om die pad te lig terwyl die oorsaak nie opgelos word nie. Water lek steeds, ongeag die munisipaliteit wat verseker dat pype en Goggapomp herstel is. Die Homevale-rioolaanleg is nie volledig werkend nie en rou riool word in die Kamfersdam gepomp. Die pypleiding wat gesuiwerde water na die Langlegpan moet neem, word nie gebruik nie. Die pypleiding van en na Goggapomp en die pomp is kort-kort buite werking en water vloei in breë strome na die riooldam.
“Ek glo die pypleidings word deur kleinboere gebreek om water vir vee te gee. Daar is glo ook ’n kikuyu-grasboer in die omgewing. Die munisipaliteit het nie beheer oor die rioolwaternetwerk nie.
“Die R31-roete word veral deur ertsvragmotors gebruik. Dit is ’n kwessie van tyd voordat die pad onder een van hulle meegee.”
- Sello Matsie, munisipale woordvoerder, het teen spertyd nog nie kommentaar gelewer nie.