Onderwysers loop voor

Die Amerikaanse skrywer Henry Adams, die fisikus en anti-kernkrag-aktivis Helen Caldicott en die briljante Albert Einstein het elkeen iets oor onderwysers te sê gehad:.


Die Amerikaanse skrywer Henry Adams, die fisikus en anti-kernkrag-aktivis Helen Caldicott en die briljante Albert Einstein het elkeen iets oor onderwysers te sê gehad:

Teachers, I believe, are the most responsible and important members of society, because their professional
efforts affect the fate of the earth.

– Caldicott

It is the supreme art of the teacher to awaken joy in creative expression and knowledge.

– Einstein

A teacher affects eternity; he can never tell where his influence stops. – Adams

Soos soveel keer, ook in ons Afrikaanse en Suid-Afrikaanse geskiedenis, word van onderwysers verwag om weer voor te loop. Hoewel daar baie stemme opgaan teen die inperkingsbeleid weens die Covid-19-pandemie, is dit meermale stuurmanne aan wal wat knus tuis sit. Die werklike druk is op onderwysers om te besluit of hulle hul taak in baie gevaarlike omstandighede moet gaan uitvoer.

Ook die welstand van hul leerlinge, wat in elk geval altyd hoog op hul lys is, is nou ’n rooi lig.

Sommige het reeds die sprong gedoen om aanlyn onderrig intensief aan te pak of op ander maniere werk huis toe te stuur. Vir diegene wat nou in vreemde omstandighede voor ’n klas gaan staan, wag daar nuwe uitdagings.

Een van die grootstes gaan wees om deur fokus op die kernleerplan steeds ’n stewige grondslag aan leerlinge te bied. Dit, weens minder tyd wat beskikbaar is en met die doel dat die leerlinge steeds voldoende voorberei sal wees vir wat hulle ook al volgende jaar moet aanpak.

Ouers en leerlinge is meermale vinnig om die verantwoordelikheid vir alles wat moet gebeur en uitkomste op die onderwyskorps af te skuif. Nou, meer as ooit, gaan al drie punte van die driehoek hul kant in een span moet bring.

Wat die uitdaging soveel moeiliker maak, is Suid-Afrika se gebreekte staatsmasjinerie en ook baie lomp stelsel van onderwysdepartemente.

Des te meer is dit gepas om veral nou weer die hoed te lig teenoor ’n onmisbare beroepskorps waaraan ons baie verskuldig is.

Volksblad, 28 Mei

You need to be Logged In to leave a comment.