Ná ’n onderwyser aan die Laerskool Kuruman ’n lewensoriënteringsles oor besoedeling voorberei het, het sy besluit om dit ’n stap verder te voer.
Nie net het Trudie Bester besluit om die les prakties uit te voer nie, maar het sy ook besluit om die praktiese uitvoering daarvan vir die Wêreldskoonmaakdag-projek in te skryf.
World Cleanup Day, soos dit ook bekend staan, is een van die grootste gemeenskapsbewegings in die wêreld wat 191 lande verenig om die wêreld ’n skoner plek te maak.
Dit het ten doel om almal in die gemeenskap, ongeag kultuur-, geloof- of ander verskille, te verenig om saam ’n verskil te maak.
So het dit dan gebeur dat Bester saam met 120 gemeenskapslede van Kuruman op Erfenisdag (24/09) ingespring het om die dorp skoon te maak, en saam het hulle meer as 52 ton rommel weggery.
Die doelwit van die skoonmaakprojek op Erfenisdag was eenvoudig: Om alle lede van die gemeenskap te nooi om die dorp skoon te maak.
Bester het gemeenskapslede genader en groepe is gevorm wat verskillende areas van die dorp met die hulp van vrywilligers (van kleuters, leerlinge tot bejaardes) skoongemaak het. Bydraes is ook van plaaslike besighede en die munisipaliteit ontvang, onder meer gereedskap, toerusting en water.
“Saterdag is vele lesse geleer,” sê Bester.
“Een daarvan is dat Rome nie in ’n dag gebou is nie.
Gevolglik is die plan om van dié skoonmaakdag ’n gereelde gebeurtenis te maak en so bewusmaking te skep om Kuruman ’n skoon dorp te maak en te hou.”
Om dit te doen, vereis deelname, sowel as tyd en bereidwilligheid van die gemeenskap.
“Die uiteindelike doel is om weer trots op ’n skoon Kuruman en sy mense te wees. Sal dit nie die beste erfenis wees nie?” vra Bester.


