Duineveld - foto van die onderwyser
Die onderwyser op die dag van die voorval. Foto: Facebook

‘n Onderwyser aan die Hoërskool Duineveld in Upington is met onmiddellike ingang en as voorsorgmaatreël geskors ná hy van “blackface” beskuldig is.

Abraham Vosloo, Noord-Kaapse LUR van onderwys, het die skool Woensdag 13 Augustus besoek en voorlopige bevindinge, asook die pad vorentoe oor dié beweerde rassisme-voorval, bekend gemaak.

Dié voorval het verlede week tydens die skool se geesweek voor die jaarlikse Groot Interjol plaasgevind. Vir een van die “geesvang-geleenthede” het die onderwyser sy gesig in ‘n donker kleur geverf en ‘n pruik met swart hare gedra.

“In die lig van die erns van die saak het die departement besluit om die betrokke onderwyser met onmiddellike ingang as voorsorgmaatreël te skors, hangende die uitslag van ‘n interne ondersoek. Hierdie stap is nodig om die integriteit van die ondersoek te beskerm en te verseker dat dit sonder inmenging of vooroordeel uitgevoer word,” sê Vosloo in ‘n mediaverklaring.

Abraham Vosloo, Noord-Kaapse LUR van onderwys. Foto: Facebook
Abraham Vosloo, Noord-Kaapse LUR van onderwys op Woensdag 13 Augustus in Upington. Foto: Facebook

Dié voorval het wydverspreide reaksie van die publiek, politieke organisasies en die burgerlike samelewing ontlok, en “diep verdeeldheid” binne die breër Upington-gemeenskap veroorsaak, sê Vosloo. Hy beklemtoon dat “onderwys ‘n maatskaplike saak is” en dat skole nie in afsondering bestaan nie maar die waardes en uitdagings van die gemeenskappe weerspieël.

Aone Leboko, hoof van arbeidsverhoudinge in die John Taolo Gaetsewe-distrik is aangestel om die ondersoek te lei. Volgens Vosloo sal Leboko se ervaring meehelp om die ondersoek onpartydig te doen.

“Ons doen ‘n beroep op alle personeellede en leerlinge by die Hoërskool Duineveld om ten volle met die ondersoeker saam te werk. Dit is noodsaaklik om die volle feite van die saak te ontbloot en te verseker dat geregtigheid geskied.”

Abraham Vosloo, LUR vir onderwys in die Noord-Kaap

Vosloo sê ná afloop van die ondersoek sal ‘n omvattende verslag, wat die bevindinge en aanbevelings uiteensit, aan die waarnemende distriksdirekteur voorgelê word.

Die bewering dat die onderwyser deur ‘n leerling versoek is om sy gesig te verf, sal ondersoek word, sê Vosloo, en ook die bewering dat die voorval eers onmin begin veroorsaak het ná sogenaamde “opruiende” kommentaar op sosialemediaplatforms.

“Slegs sodra hierdie verslag ontvang en behoorlik oorweeg is, sal ‘n finale besluit geneem word.”

‘Regverdige ondersoek’ word versoek

In reaksie op Vosloo se aankondiging versoek dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en provinsiale leier in die Noord-Kaap dat die ondersoek regverdig sal wees, sodat die noodwendige ontwrigting so vinnig moontlik verby kan gaan.

Boshoff beskryf die betrokke onderwyser as ‘n “gewilde en meelewende onderwyser”.

Die VF Plus dring daarop aan dat die ondersoek nie in ‘n heksejag ontaard wat poog om rassisme te bewys, net om die ontwrigting te regverdig nie, sê Boshoff.

‘Blackface’ steeds as rassisties beskou

“Blackface” is wanneer gesigte donkerder gemaak word met onder meer skoenpolitoer, en taal, beweging, gedrag en karakter oordrewe aangebied word. Volgens bbc.co.uk was dit ‘n praktyk wat so ver terug as 200 jaar gelede begin het waarin swart mense só bespot is tot vermaak van veral wit mense, en negatiewe stereotipes is hierdeur bevorder.

Volgens die webwerf van die National Museum of African American Culture and History is “blackface” se historiese gebruik om mense van Afrika-afkoms te verkleineer. Die voortgesette gebruik daarvan word steeds as rassisties beskou.

Ondersteuning gebied aan onderwyser

Op verskeie Facebook-blaaie, onder meer Upington Concerned Citizens en Igshaan Sulliman, word ondersteuning vir die onderwyser uitgespreek. Daar word gesê dat toe die onderwyser tydens geesweek soos ‘n vrou aangetrek het, het niemand aanstoot geneem nie.

Van die kommentaar is:

  • “My opinie boorling van die noordkaap moet ek sê daar is baie witmense wat nog baie racist is en sowel as swart en kleurlings praat van ondervinding. maar om n onderwysers met klippe te wat elkedag met ons onbeskofde kinders te deal is onregverdig en dan doen hy dit nog vir hulle. mense kom ons begin verby kleur kyk en sien dit wat die persoon bereid is om te doen vir ons kinders. ONS STAAN MET JOU”
  • “Word totaal en al uit verband geruk.”
  • “So gatvol vir die politieke spel, wat ingebring word in ‘n onskuldige “fun” dag vir skoolkinders. Alles is weereens uit verband geruk.”
  • “Daar is kinders wat seksueel deur hulle eie familie lede aangerand word en politieke partye hou hulle op met belaglikhede. Prioriteite ouens…hierdie is onskuldige pret. Geez ons moet darm iewers kan lag in hierdie donker land van ons.”
  • “We were laughing when Leon (Schuster) was doing it…”

You need to be Logged In to leave a comment.