Thoko Didiza, minister van landbou, praat met die inwoners van die ZF Mgcawu-distrik wat Vrydag (21/10) die presidensiële imbizo in Upington bygewoon het.

Foto: Facebook Credit: SYSTEM

Sy lê elke reënseisoen wakker in vrees dat die geld wat bestee word om die vloedwalle langs die Oranjerivier op te knap, verlore kan gaan.

Só het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Donderdag (20/10) voor die presidensiële imbizo in Upington gesê tydens ’n vergadering met Agri Noord-Kaap, ander boereorganisasies, tradisionele leiers en uitvoerende beamptes van gemeenskapseiendomsverenigings (GEV’s).

Sy het met dié drie sektore vergader om probleme in die onderskeie sektore te bespreek.

Die algemene kwessies wat geopper is, sluit ondersteuning in vir boere wat produksie betref, om die risiko’s in dié sektor vir droogtes te verminder, veldbrande, vloede, oorgrensplae en -siektes in die lig van klimaatsverandering, landelike veiligheid, insluitende veediefstal, en watergebruiksregte.

Nicol Jansen, hoof van Agri Noord-Kaap, sê die organisasie het benewens die kwessie van die vloedwalle aan die Benede-Oranje­rivier ook ander kwessies teenoor die minister geopper. Dit sluit die ontwikkeling van die hawe by Boegoebaai in, dat die mynroete aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) oorgedra moet word, die stand van plaaslike munisipaliteite, die energiekrisis, veldbrande, beperkte diensure by landelike polisiekantore en toegang tot die databasis oor grond.

Didiza het beloof om aandag aan die bestuur van oorgrensveldbrande te skenk.

Met betrekking tot die GEV’s is suksesse en uitdagings bespreek wat die bestuur en prestasie van dié entiteite raak. Die Tradisionele Owerheid-GEV-koppelvlak is bespreek met die oog op die benutting van die potensiaal van GEV’s om armoede en werkloosheid in gemeenskaplike gebiede te pak.

Die minister het ook tyd daaraan bestee om tradisionele leiers in te lig oor die vordering wat gemaak is ná die beraad oor die administrasie van gemeenskaplike grond.

Sy het in reaksie op die kwessies belowe om te verseker dat die na­sionale en provinsiale departemente sake sal oorweeg wat deur die deelnemers geopper is, en sake sal koördineer of verwys wat ander staatsdepartemente of -entiteite raak. Sy het haar ook daartoe verbind om die GEV’s met verskeie opleidingsintervensies te bemagtig om beter bestuur te bevorder.

Didiza het Vrydag in haar spreekbeurt op die imbizo gesê een van die kwessies wat op die vorige dag se vergadering geopper is, het verband gehou met die ondersteuning aan klein en mediumgrootte boerderye.

Didiza het aan vroue gesê wat die “een-huishouding-een-hektaar-konsep” geopper het dat dié program weer in werking gestel sal word.

Didiza het ook voorgestel dat seisoenwerkers, wat buite seisoene werkloos is, in nuwe vaardighede opgelei word om in ander seisoene in diens geneem te kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article