Al glo Henk van Zyl, oudpolisieman en pa van ds. Liezel de Jager, wat 19 maande gelede by haar pastoriehuis in Amanzimtoti vermoor is, steeds in die regstelsel, glo hy nie meer in die polisie nie.
Hy en sy vrou, Salomé, pleit by die polisie om net hul werk te doen.
De Jager was ten tyde van haar dood die leraar van die NG kerk Suidkus in Amanzimtoti. Voorheen was sy die leraar van die NG kerk Kanoneiland naby Upington.
Of daar enige vordering in die ondersoek ná haar moord is, is volgens hulle te betwyfel aangesien die polisie in KwaZulu-Natal met niemand kommunikeer nie – ook nie met die Van Zyls nie.
Van Zyl het al minstens 91 pogings aangewend om met die polisie en die ondersoekbeampte te praat, maar kry geen noemenswaardige terugvoering oor die vordering van die ondersoek nie. Hoewel die ondersoek volgens Henk goed begin het, het dit later doodgeloop.
“Ons is steeds nie seker hoe die ondersoek vorder nie. Die lykskouingsverslag is 19 maande later steeds nie ingehandig nie.”
Nog ’n skok het hulle verlede week getref toe hulle hoor dat ’n nuwe hofbevel bekom moet word vir die ondersoek na die bewysstukke omdat die vorige een verval het. Henk sê die hofbevel moes al in die eerste maand ná die moord bekom geword het sodat die toestelle onmiddellik ontleed kon word.
“Ons is bekommerd oor die digitale rakleeftyd van sulke toestelle.” Hy glo dié toestelle hou die antwoorde op die tergende vrae oor sy dogter se moord.
Liezel is op 13 Oktober 2021 in die oprit van die pastoriehuis vermoor nadat sy van haar oggenddrafsessie saam met kennisse teruggekeer het.
Haar man, Werner de Jager, het die sekuriteitsmaatskappy na die huis ontbied nadat hy op haar lyk afgekom het.
– Anena Burger

