Loxton se besondere bomeprag, wat aan sy leivore te danke is, is onder bedreiging weens arm inwoners wat daagliks bome vir vuurmaakhout stroop.
Só meen Deon Kotzé, ’n bekommerde inwoner. Hy het tien jaar gelede van Stellenbosch na dié Karoodorp verhuis omdat hy onder meer deur die groen bome, wat die grondstrate omsoom, getrek is. Hy is ’n tuinboukundige wat ná sy studie aan die Technikon Pretoria altesaam 18 jaar by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin gewerk het. Later was hy ook die kurator aan die botaniese tuin vir die Universiteit Stellenbosch.
“Ek neem aan dat arm en werklose inwoners nie meer elektrisiteit of paraffien kan bekostig om kos te maak nie. Hulle gebruik hout om vuur te maak,” sê hy. Die stroping van boombas en takke op sypaadjies en in private tuine is ‘n probleem omdat dit bome laat doodgaan.
“Die Ubuntu-munisipaliteit en departement van waterwese het onlangs die pypnetwerk opgeknap wat die waterdruk verbeter.”
Die dorp se drinkwater kom uit boorgate, en die leivore word deur ‘n standhoudende fontein gevoed. Die water in die leivore, wat al hoe meer deur nuwe intrekkers benut word, het sterwende bome gered wat onder die droogte gely het.
Hy het die kontrakwerkers bygestaan sodat so min moontlik bome tydens die bouwerk aan die pypnetwerk beskadig is. Die bome hou die dorp koel en gee dit karakter, sê hy. Selfs die indringerplantsoorte soos bloekombome en sekere dennebome is kosbaar; dit hou nie ’n bedreiging in nie, want dit versprei nie buite die dorp nie. Tog hou die houtversamelaars ’n probleem in.
“Ons inwoners se foto’s van die pragtige tuine en bome trek ook voornemende inwoners, wat die plaaslike ekonomie stu.”
Hy sê soutbosheinings word afgeruk en takke van peer- en sipresbome is lelik afgebreek.
“Lank gelede, voordat ek heeltyds ingetrek het, het ek iemand in my tuin gevang wat besig was om die peerboom se tak af te saag. Die peerbome op die sypaadjies maak lieflike wit blomme.”
Hy en ander inwoners het besluit om benewens die olyfbome wat hulle reeds op sypaadjies geplant het, nog bome in die plek van beskadigde bome te plant. Andersins is hulle onseker oor hoe om die probleem hok te slaan.
Kotzé is egter bekommerd oor losloper-boerbokke wat veral die olyfbome beskadig.
“Losloperdiere is onwettig, en ons klagte by die polisie het nog niks opgelewer nie. Die bokke kan ons aanplantingsprojek belemmer, want ’n bok vreet alles op.”