Strukture by Christiana lê onder die water en het inwoners benoud.
Strukture by Christiana lê onder die water en het inwoners benoud, “en dit raak net erger,” skryf Christina Prinsloo wie dié foto op 29 April geplaas het. Foto: Facebook/Reënval in SA

Dit is nog te vroeg vir Agri Noord-Kaap en die Noord-Kaapse departement van landbou om die algehele infrastruktuurskade en skade aan oeste ná die onlangse vloede in die Oranje- en Vaalrivier te bepaal. Dit is wel omvangryk en wesenlik. Só sê Willem Symington, voorsitter van Agri Noord-Kaap.

Dit kom nadat die Vaal- en Oranjerivier in vloed was, en damme oorvol, ná mildelike reënval die afgelope maande oor opvangsgebiede.

“Die vloede is stresvol vir die landbousektor, met insetkoste wat so hoog is. Geen mens wil nog vloedskade ook hê nie.”

Symington sê om van ‘n 100 jaar-vloed te praat, is nie meer tersaaklik nie.

“Ons mees onlangse vloede was in 2011, 2023 en nou. Die tydperk tussenin word al hoe korter, en die hersteltyd soveel korter. Dit wek kommer oor hoe boere dit gaan oorkom. Landbou se weerstand teen skade word minder.”

Dit is te vroeg om te praat oor uitbetalings weens skade aan infrastruktuur.

Vloedskade aan wingerde.
Druiweboorde onder water in die Benede-Oranjerivier se gebied. Foto:V erskaf

“Daar is provinsiaal nie geld nie. ‘n Nasionale rampverklaring kan help om prosesse te vergemaklik en te versnel, om geld te bekom om infrastruktuurskade en die vloedwalle te herstel.

“Waarop ons nou fokus, is om die skade aan vloedwalle te bekyk wat ná die 2011-vloed gebou is. Die walle is ‘n groot stuk werk wat ‘n geweldige invloed gehad het, en van die vloede weggekeer het. Water vloei egter soos hy wil, en as hy ‘n poort vind, sal hy daardeur stroom. Paaie bly ook in die slag.”

Lusernboere kon die afgelope maande te midde van mildelike reën en nat toestande nie lusern sny en verkoop nie.

Rosyntjieboere kon nie hul produkte genoegsaam afdroog nie, en gehalte is ingeboet. Boere wat vroeë mielies geplant het, was laat op hul kontrakte ingevolge hul ooreenkomste.

Water het gate in boorde en wingerde gespoel, en pekanneute wat in die water gelê het, is bederf, sê Symington.

You need to be Logged In to leave a comment.