Meer as 12 jaar nadat bouwerk aan Kimberley se omstrede psigiatriese hospitaal begin het en nadat meer as R2 miljard reeds aan die projek bestee is, staan die hospitaal steeds leeg en ongebruik.
Andrew Louw, die DA se provinsiale leier en premierskandidaat in die Noord-Kaap, het Woensdag op Wêreldgeestesgesondheidsdag die terrein saam met ’n DA-span besoek. Hy is deur onder andere Makashule Gana, DA-LP en DA-woordvoerder vir basiese dienste, en Harold McGluwa, die DA se provinsiale voorsitter in die Noord-Kaap en hoofsweep in die provinsiale koukus, vergesel.
Die gebou het met die besoek leeg gestaan en daar was geen pasiënte, dokters of verpleegsters in sig nie, slegs bouwerkers en veiligheidswagte. Die tuin het onversorg voorgekom en onkruid groei welig in die beddings.
Die DA het glo vroeër versoek dat dr. Dion Thys, hoof van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement, die oorsigbesoek meemaak, maar hy het nie opgedaag nie.
Clement Kaotsane, assistentdirekteur van veiligheid by die hospitaal, het die DA-lede vergesel.
Dele van die hospitaal kon nie besigtig word nie weens die biometriese veiligheidstelsel wat toegang beheer.
Kaotsane sê egter dat hy nie by magte is om namens die departement van gesondheid te verduidelik waarom die hospitaal nog nie in gebruik is nie.
Louw het ná die inspeksie gesê hy is geskok.
“Die gebou is vol ‘leegheid’,” het hy dit beskryf.
Volgens Louw het premier Sylvia Lucas vroeër vanjaar met haar staatsrede gesê dat die hospitaal vanjaar sou open. Dit het egter nie gebeur nie.
Die DA gaan vrae aan Lucas rig om te verduidelik waarom die hospitaal nog nie sy deure geopen het nie.
Louw sê dat indien die DA nie ’n bevredigende antwoord kry nie die party ander stappe sal oorweeg.
Louw sê ook dat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, die finale verantwoordelikheid dra en moet kom kyk wat op die perseel aangaan.
“Hierdie regering gee nie vir mense om wat aan psigiatriese toestande ly nie. As hulle wel omgegee het, sou hierdie plek al oop gewees het,” het Louw Woensdag aan media gesê.
Hy betreur ook die feit dat baie pasiënte op Wêreldgeestesgesondheidsdag elders om hulp moet aanklop terwyl die gerief tans leeg en ongebruik staan.