Die Openbare Beskermer (OB) en haar adjunk het Vrydag (18/02) die sweep onder die Noord-Kaapse uitvoerendekomiteelede geklap ná ’n oorsigbesoek waarin hulle hul skok oor die swak toestand van Kimberley en gebrek aan leierskap uitgespreek het.
Die R31-roete buite die stad wat deur ’n enorme dam rioolwater bedreig word, was ’n dringende besprekingspunt, asook die versuim van provinsiale en munisipale owerhede om haar aanbevelings in vorige ondersoeke toe te pas.
Busisiwe Mkhwebane, OB, tesame met personeel van haar eie en die plaaslike OB-kantoor, het Donderdag onaangekondig in Kimberley opgedaag om klagtes by ’n woonbuurt, hospitaal en ’n provinsiale pad te ondersoek. Sy het daarna met die Sol Plaatje- munisipale amptenare vergader en Vrydag met die uitvoerende provinsiale komitee om haar waarnemings en hangende ondersoeke in die provinsie te bespreek.
Die OB was Donderdag eers na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, waar ’n “georganiseerde chaos” aangetref is, en toe na Greenpoint, waar een inwoner se leefruimte al vier jaar lank deur rioolwater verswelg word. Die munisipaliteit versuim glo om verordeninge toe te pas op ’n ongesoneerde varkplaas wat higiëne- en veiligheidsprobleme in Greenpoint veroorsaak.
Daarna is die afgevaardigdes na die R31-roete buite die stad om na die gedeelte van die roete te kyk wat deur ’n dam rioolwater bedreig word. Die swak toestand van die R31-roete is te wyte aan lekkende munisipale pypnetwerke wat sedert 2002 nooit herstel is nie, het Mkhwebane gesê. Die departement van paaie en openbare werke gaan binnekort die pad op die betrokke gedeelte met 1,5 m lig in ’n projek wat tien weke gaan duur.
Mkhwebane het gesê dié padwerke los nie die onderliggende oorsaak op nie. “Dit is soos om grimering oor ’n gapende wond te plak.” Die vervalle grootmaatinfrastuktuur moet vervang word. Die agteruitgang is in 2002 geïdentifiseer en sou destyds R1 miljard kos om te herstel. Omdat dit nie destyds gedoen is nie, gaan dit nou R5 miljard kos. Mkhwebane verwag binne twee weke ’n omvattende verslag van dr. Zamani Saul, premier, waarin hy sy regrukplan moet uiteensit.
“Dit is verontrustend dat die burgemeester nie die vergadering bygewoon nie. Die munisipale bestuurder, wie se kontrak binnekort eindig, het blykbaar handdoek ingegooi weens ’n ‘onwillige werkskultuur’ onder amptenare.”
By die departement van gesondheid het kontraktuele kwessies met ’n diensverskaffer veroorsaak dat ambulanse weens ’n brandstoftekort tot stilstand gekom het.
Mkhwebane het Newrene Klaaste, speaker in die wetgewer, versoek om die uitvoerende komitee aanspreeklik te hou en te verseker dat OB-aanbevelings in werking gestel en nie geïgnoreer word nie.
“Die speaker moet verseker dat portefeulje-komitees hul oorsigrol uitoefen.”
“Indien julle spoedig op klagtes reageer en mense voortdurend inlig, sal probleme permanent opgelos word. Ons moet oor en oor dieselfde klagtes ondersoek omdat regstellende stappe nie gedoen word nie. My versoek is dat amptenare gereeld met my personeel in Kimberley vergader om vroegtydig klagtes wat ons ondersoek op te los.
“Die vyandige gevoelens tussen ons en staatsdepartemente moet met openhartige gesprekke oorkom kan word.”
Adv. Kholeka Gcaleka, adjunk-OB, het op haar beurt ’n preek oor etiese leierskap afgesteek.
“Amptenare word nie verantwoordbaar gehou nie, wat beteken daar is geen vooruitgang en verbeterde dienslewering nie. Ek hoop dat die premier volgende jaar in sy provinsiale rede voorbeelde kan noem waar hy regstellende stappe gedoen en amptenare verantwoordbaar gehou het. Dit is uiters noodsaaklik dat tradisionele leiers en gemeenskappe by probleemoplossing betrek word.
Dit was skynbaar ’n verwysing na Maruping Lekwene, nou LUR van gesondheid, se hersieningsaansoek oor die OB se bevinding teen hom toe hy nog die LUR van finansies en ekonomiese ontwikkeling was. Sy het bevind dat hy die uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse dobbelraad op onregmatige wyse aangestel het. Maruping het ’n tussentydse interdik bekom wat die aanbevole dissiplinêre stappe teen hom stol totdat ’n hersieningsaansoek aangehoor is.
Lekwene, wat ook in die vergadering was, se lont was kort oor die OB se opmerkings, waarna die premier kom kalmeer het.
Saul sê die “kreatiewe spanning” tussen die uitvoerende komitee en die OB se kantoor kan beter samewerking meebring. “Ek is besig om met die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika te praat oor die koste en hoe ons die infrastruktuur in die geheel kan opknap. Daar sal binne die volgende twee jaar vordering wees.”
In sy reaksie het Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, voorgeneem om self na die Greenpoint-huiseienaar te gaan en te verseker die rioolopdamming word permanent opgeklaar.
- Die OB ondersoek 146 sake in die Noord-Kaap, waarvan 114 met dienslewering te make het. Haar kantoor het ’n kommerwekkende toename opgemerk in die onregmatige aanstelling van amptenare in die Tsantsabane- en Dawid Kruiper-munisipaliteit en die John Taole Gaetsewe- en Frances Baard-distrikmunisipaliteit. Die ander sake behels die onregmatige toekenning van titelaktes en die toekenning van tenders vir persoonlikebeskermingstoerusting.