OB geskok oor hoofstad

Die Openbare Beskermer (OB) en haar adjunk het Vrydag (18/02) die sweep onder die Noord-Kaapse uitvoerendekomiteelede geklap ná ’n oorsigbesoek waartydens hulle hul skok oor die swak toestand van Kimberley en gebrek aan leierskap uitgespreek het.


Die Openbare Beskermer (OB) en haar adjunk het Vrydag (18/02) die sweep onder die Noord-Kaapse uitvoerendekomiteelede geklap ná ’n oorsigbesoek waartydens hulle hul skok oor die swak toestand van Kimberley en gebrek aan leierskap uitgespreek het.

Die R31-roete buite die stad wat deur ’n enorme dam rioolwater bedreig word, was ’n dringende besprekingspunt, asook die versuim van provinsiale en munisipale owerhede om haar aanbevelings in vorige ondersoeke toe te pas.

Busisiwe Mkhwebane, OB, tesame met personeel van haar eie en die plaaslike OB-kantoor, het Donderdag onaangekondig in Kimberley opgedaag om klagtes by ’n woonbuurt, hospitaal en ’n provinsiale pad te ondersoek.

Sy het daarna met die Sol Plaatje- munisipale amptenare vergader en Vrydag met die uitvoerende provinsiale komitee om haar waarnemings en hangende ondersoeke in die provinsie te bespreek.

Die OB was Donderdag eers na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, waar ’n “georganiseerde chaos” aangetref is, en toe na Greenpoint, waar een inwoner se leefruimte al vier jaar lank deur rioolwater verswelg word. Die munisipaliteit versuim glo om verordeninge toe te pas op ’n ongesoneerde varkplaas wat higiëne- en veiligheidsprobleme in Greenpoint veroorsaak.

Daarna is die afgevaardigdes na die R31-roete buite die stad om na die gedeelte van die roete te kyk wat deur ’n dam rioolwater bedreig word.

Die swak toestand van die R31-roete is te wyte aan lekkende munisipale pypnetwerke wat sedert 2002 nooit herstel is nie, het Mkhwebane gesê. Die departement van paaie en openbare werke gaan binnekort die pad op die betrokke gedeelte met 1,5 m lig in ’n projek wat tien weke gaan duur.

Mkhwebane het gesê dié padwerke los nie die onderliggende oorsaak op nie.

“Dit is soos om grimering oor ’n gapende wond te plak.”

Die vervalle grootmaatinfra­stuktuur moet vervang word. Die agteruitgang is in 2002 geïdentifiseer en sou destyds R1 miljard kos om te herstel. Omdat dit nie destyds gedoen is nie, gaan dit nou R5 miljard kos.

Mkhwebane verwag binne twee weke ’n omvattende verslag van dr. Zamani Saul, premier, waarin hy sy regrukplan moet uiteensit.

Die OB het ’n eie ondersoek na die R31-roete begin nadat klagtes oor padongelukke ontvang is.

“Dit is verontrustend dat die burgemeester nie die vergadering bygewoon nie.

“Die munisipale bestuurder, wie se kontrak binnekort eindig, het blykbaar handdoek ingegooi weens ’n ‘onwillige werkskultuur’ onder amptenare.”

By die departement van gesondheid het kontraktuele kwessies met ’n diensverskaffer veroorsaak dat ambulanse weens ’n brandstoftekort tot stilstand gekom het.

Mkhwebane het Newrene Klaaste, speaker in die wetgewer, versoek om die uitvoerende komitee aanspreeklik te hou en te verseker dat OB-aanbevelings in werking gestel en nie geïgnoreer word nie.

“Die speaker moet verseker dat portefeulje-komitees hul oorsigrol uitoefen.”

Die gemeenskap moet opgevoed word om nie matrasse en ander voorwerpe in rioolnetwerke te gooi nie, was ook die boodskap.

“Indien julle spoedig op klagtes reageer en mense voortdurend inlig, sal probleme permanent opgelos word. Ons moet oor en oor dieselfde klagtes ondersoek omdat regstellende stappe nie gedoen word nie.

“My versoek is dat amptenare gereeld met my personeel in Kimberley vergader om vroegtydig klagtes wat ons ondersoek op te los.

“Die vyandige gevoelens tussen ons en staatsdepartemente moet met openhartige gesprekke oorkom kan word,” het Mkhwebane gesê.


  • Lees ook die berig op bl. 3.

You need to be Logged In to leave a comment.