Arina Beukes is onlangs as voorsitter van die Kuruman-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) aangewys. Beukes, wat ook die tak se leefstyl-beoordelaar is, was voorheen die vise-voorsitter en vertel dat betrokkenheid by die VLV haar lewe verryk. “Dit daag my uit om dinge aan te pak wat ek nooit anders sou probeer nie, en daar is altyd iets nuuts om te leer.” So het sy onder meer in Augustus 2021 ’n beoordelaarseksamen in gebak, gebottel en lekkers afgelê, en in Augustus 2022 ’n beoordelaarseksamen in brei-, hekel- en naaldwerk. Beukes was sewe jaar lank ’n kleuterskoolonderwyseres en sê dat sy steeds gespanne voel om voor mense te praat. Sy onthou dan altyd ’n lewenswaarheid van haar ma: “Begin net eers, dan sal jy moed en krag hê om klaar te maak.” Beukes vind mense wat goed is vir ander, en mense se wonderlike idees en uithouvermoë, inspirerend. Hier is sy met verjaardagwense vir die VLV Kuruman-tak wat in September 2023 sy 90ste bestaansjaar gevier het.

Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article